Ek begewe my hier in ‘n byenes. Maar ag wat, wat maak dit saak? Die nuutste gezoem in die byenes nou die dag was die T-hemp wat Dricus du Plessis aangehad het, wat lui: TRUMP PREFERS CHAMPIONS. Op Facebook sien ek toe ‘n opmerking van iemand, wat hom uiters sterk uitdruk oor hoe teleurgesteld hy in Dricus is en dat Trump nou veroorsaak dat mense, wat veronderstel is om van Dricus te hou, nou oor hom verdeeld is. Ander wens sommer nou dat Dricus die geveg moet verloor.
Is ons besig om heeltemal gek te raak?
Wat beslis waar is, is dat almal nou betrokke is by die kultuuroorloë, wat wêreldwyd aan die gang is. Ons kan dit nie ontduik nie - ons is in die middel van alles. Wat my pla oor sulke uitlatings, báie meer as wat mense se standpunte oor Trump, Musk, Israel, Gasa of Oekraine , is die gepolariseerde, onchristelike, vyandige, eensydige gesprekke. Dis asof niemand meer die vermoë het om die ander kant werklik te hoor en intelligent daarop te reageer nie. Niemand stel sy saak gebalanseerd nie, Christene ook nie. Deur die eeue sou die denkende filosowe geheel en al stomgeslaan gewees het, as hulle moes hoor hoe mense mekaar links en regs uithaal bloot omdat hulle standpunte oor sekere wêreldsake verskil. Een so ‘n filosoof was Aristoteles. Hy was bekend daarvoor dat hy geleer het dat die redelike deel van enige morele standpunt gewoonlik meer in die middel lê as op een van die pole. Die hart van antieke debatte het juis daarin gelê dat ek my intellektuele teenstander nie uithaal nie, maar aktief met hom redeneer, omdat ek hom as ‘n waardige opponent beskou.
Wat my verder diep tref, is die fanatiese sekerheid van elke groep en die gewilligheid om die ander geheel en al af te skryf, bloot omdat hulle van mekaar verskil. Indien iemand net ‘n effense kritiese ding oor die ander groep sê, dan is so iemand ewe skielik of ‘n Nazi of ‘n kommunistiese Marxis! Die ergste is dat toegewyde, diep gelowige Jesus-volgelinge ander medegelowiges angstig oproep tot bekering en húlle siening van sake. Dominees op Facebook, Instragram en Tik-Tok word besielende predikers vir politieke standpunte en dit in die Naam van Jesus. Hulle post en post en post! Hulle hou nie op nie. En dis alles ‘n emosionele, opruiende tirade teen die een of ander individu of groep! Hulle politieke standpunt het hulle evangelie geword! En dit terwyl die realiteit is dat uiters belese en invloedryke, morele mense, goeie teoloë en diep gelowige mense almal na dieselfde persoon, party of politieke gebeurtenis kyk en met teenoorgestelde standpunte vorendag kom. So word die kerk van die Here Jesus verdeel en ander mense se spiritualiteit geëvalueer aan die hand van hulle standpunt in die wêreldwye bekgevegte. Dit voel vir my die wêreld was nog nooit so oppervlakkig nie.
Van een ding is ek egter seker. Trump is nie die messias nie. Jesus is. Waarom gee beide kante dan aan Trump messiaanse gesag deur hom die bepalende faktor te maak oor hoe ons ander mense sien? Waarom is sommige Christene se lewensboodskap pro- of anti-Trump? Waar is die evangelie van Jesus? Wanneer ons Trump toelaat om die wêreld in twee te verdeel, ken ons juis aan hom messiaanse gesag toe, of jy nou van hom hou of nie. Waarom speel ons die wêreld se speletjie? Dis slegs mense sonder genade wat die wêreld sien as ‘n spel wat gespeel moet word met politieke, ekonomies en retoriese mag, waar almal na hulle kant toe oorgehaal moet word.
Christene is veronderstel om die wêreld te sien as ‘n sendingveld. Daarom hanteer ons niemand as vyande nie, maar as objekte van God se genade en liefde. Ons kies nie polities kant nie, maar roep die ganse wêreld op tot bekering. Ons staan op die brug en nooi beide Trump en Biden, Putin en Zelensky, Israel en Palestina, elkeen met hulle verskeie volgelinge, om mekaar in Jesus te kom vind. Ons gun die son se opkoms oor beide pro- en anti-Trump-mense. Ons praat ordentlik met almal, om soveel as moontlik vir Jesus te wen.
Ek ken Trump nie persoonlik nie en ek weet nie wat sy motiewe is nie. Mense is kompleks, so ek gaan dus nie eers ‘n opinie waag nie. Sommige van sy beleide en uitsprake klink vir my horingsleg en ander klink weer goed. Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek nie na fanaties-eensydige standpunte gaan luister nie. Trump gaan nie my wêreld in twee verdeel nie.
Daardie gesag het Jesus slegs vir Homself toege-eien.
Comments