top of page

Van kennis tot begrip

Stephan Joubert

Lees Johannes 16:13b


Kennis en feite verander nie noodwendig mense se lewens nie. Vra maar vir kerklikes, wat week na week in kerke met hope inligting gebombardeer word. Daar’s weekliks ‘n stapel nuwe kerklike afkondigings, nog ‘n preek of twee om te verteer, die kinders se nuwe lesse in die kategeseklas en noem maar op. Help dit? Ek’s nie heeltemal so seker nie. Blote inligting is wel ... presies net dit - inligting! Eers wanneer harde feite met insig vervang word, dan vind egte geestelike leer en lewensverandering plaas. En dis presies hier waar die Gees werksaam is. Hy is nie slegs ‘n kopkennisleermeester nie. Nee, die Gees is ‘n hartaanraker en ‘n leweveranderaar. Dis die Gees se werk om begrip vir wie Jesus is en wat Hy alles doen, in ons harte oor te skryf. Hy omvorm ons kennis oor Jesus tot verteerbare, lewensveranderende insig.


Dalk moet ons ophou om blote geestelike informasie te hersirkuleer en ruimte maak vir die Gees se nuwe leerprosesse, waar kennis met begrip vervang word. Dan sal ons weer wonderwerke voor ons eie oë sien gebeur. Dan sal ons sien hoe mense tot bekering kom en voor Jesus as die Here begin buig. Die Gees kom immers om Jesus tot Koning te kroon, nie om mense met nog starre inligting te oorlaai, te verveel of te vermaak nie. Hy kom om lewens te verander. Staan asseblief uit Sy pad en sien hoe dit gebeur.


Gebed:

Laat mense se oë vir U oopgaan, Gees van God. Laat hulle tot die regte insig kom. Amen.


Comments


bottom of page