Van Vis tot Kruis
- Siegfried Louw
- 1 day ago
- 3 min read
Paasfees is duidelik naby aan ons. Selfs nog voordat ek paaseiers op die winkelrakke te siene gekry het, het ek varsgebakte paasbolletjies gewaar. Ek het lank gestaar na die taai, soet kruisies bo-op die broodjies. Wat ʼn vreemde simbool het ons nie vir ons geloof nie? ʼn Toestel wat iemand tot die dood toe kan folter, is vir ons die simbool van nuwe lewe.
In die tyd van die vroeë kerk was dit gevaarlik om openlik oor jou geloof te praat. Dit was beter om dit geheim te hou. In daardie dae is die kruis gewoonlik nie as ons hoofsimbool gebruik nie. Neem byvoorbeeld die vis. Die Griekse woord “ichthus” beteken vis, maar dit is ook 'n akroniem wat staan vir: "Jesus Christus, Seun van God, Verlosser". As jy by iemand ʼn vissiesimbool gewaar het, kon jy stilweg aanvaar dat daardie persoon in Jesus glo. Dit was 'n eenvoudige en veilige manier om met mekaar in tye van vervolging te kommunikeer.
Vroeë Christene het ook ander simbole vir ons geloof gebruik. My persoonlike gunsteling is die simbool van die pou. Elke jaar kry die pou nuwe pronkvere. Die ou, verslete vere val dan uit en nuwes neem hulle plek in. Die nuwe vere en gevolglike gepronkery is gesien as ʼn boodskap van hoop en lewe na die dood. Dit bly ʼn skouspel om te sien hoe dit lyk wanneer ʼn pou sy vere oopskud. Die blink en helder patrone is vir die toeskouer ʼn verrassing. Vir die vroeë gelowiges het daardie blou sirkels hulle laat dink aan God se oog, wat alles sien, en dat Hy by ons is en ons beskerm.
ʼn Ander baie ou simbool is die anker. Net soos 'n anker 'n skip veilig hou, het die anker vir vroeë Christene daaraan laat dink dat ons geloof vaste hoop en veiligheid bied in tye van onsekerheid.
In die tyd van Konstantyn het daar egter ʼn groot verandering plaasgevind. Die verhaal word vertel van Konstantyn se droom voor die slag by die Milvianbrug op 27 Oktober 312. Hy het ʼn helder kruis in die lug gesien met die woorde “In hoc signo vinces”: “In hierdie teken sal jy oorwin.” Hoe sou jy gedink en gevoel het na só ʼn droom? Hierdie visioen het hom oortuig dat hy op die regte pad was en dit het 'n groot invloed gehad op hoe die kruis later as die belangrikste simbool van die Christelike geloof beskou is.
Alhoewel daar wonderlike dinge sedert daardie dae gebeur het, is vreeslike dinge ook al in die naam van Christenskap gedoen. Gelowigheid het soms die toegangskaartjie geword wat heersers gebruik het om ander mense oor te neem en te oorheers. Kruise is dikwels as simbole van triomf oor ander mense gesien.
Vandag sien ons die kruis oral – op kerke, in huishoudelike dekor, selfs op motortegnologie. Dit is ons trots om hierdie simbool aan ander ten toon te stel. Miskien moet ons vandag dalk net weer onsself afvra: Wat presies beteken hierdie simbool vir my? Het ek dieselfde gesindheid van Christus in my, soos wat Filippense 2 van ons vra? Is ek bereid om myself weg te gee vir ander?
In die vroeë dae was geloof ‘n geheime saak en simbole soos die vis en die anker het daardie geheimsinnigheid behou. Vandag, selfs al is alles meer openlik, is dit belangrik om die diep betekenis agter hierdie tekens nie te vergeet nie.
Die skuiwe wat plaasgevind het in die ontwikkeling van ons simbole, is ʼn reis van pyn na hoop, van geheimhouding na openheid. Ek wonder oor myself en hoe ernstig ek hierdie kosbare simbool koester. Spreek dit my vry om triomfantelik oor ander te probeer heers, of nooi dit my in om ook my eie lewe prys te gee? Daar is ʼn groot verskil tussen die twee. Dan gebruik ons dalk dieselfde woorde, maar ons praat nie dieselfde Jesus-taal nie, al het ek ʼn kruis iewers teen my muur of op my aanlynprofiel.
Comments