top of page

Vanaf wanhoop tot baie hoop

Stephan Joubert
Teks: Efesiërs 1:18

Dit is opvallend hoe dikwels hierdie tyd, waarbinne ons leef, as ‘n tyd van moedeloosheid en wanhoop deur mense beskryf word. Preke, boeke en seminare word dikwels met sulke tipe opmerkings ingelei. Dan voel almal, wat dit beleef, bedruk en mismoedig. Die feit is: hoe meer kere ons sulke wanhopige taal gebruik om ons eie omstandighede en dié van ander te beskryf, hoe meer vestig die idee in ons koppe dat dit die waarheid is. Ons voer eintlik dan daardie einste monster, wat ons probeer beveg. 


Die apostel Paulus stippel ’n veel gesonder roete vir ons almal uit. Hyself begin altyd in God se skatkamers, wanneer hy die lewe in die oë kyk. Vanuit hierdie hemelse oorvloed tipeer hy swaakrydinge, soos lyding en vervolging dan as ‘n ligte las. Hy beleef heel eerste God se oorstromende rykdom, voordat hy menslike swaarkry en armoede rondom hom raaksien. Hierdie goedheid van God verander ons almal, wat navolgers van Jesus is, in begenadigdes en geseëndes. Vir diegene, wat dit nog nie begryp of beleef nie, bid Paulus in Efesiërs 1 dat die oë van hulle harte sal oopgaan. Dan sal hulle ook agterkom dat die opstandingskrag van Christus altyd en orals in hulle lewens aan’t werk is. Dan sal hulle al die seer en swaar van die lewe tegemoet loop, met die wete dat die skatte van God in ons almal as Sy kinders se lewens verpak is. Ook sal hulle weet dat ons almal se swaakry gering is, omdat dit verbygaan. Laat jou oë asseblief vandag ook vir hierdie groot waarheid oopgaan!


Gebed:  Laat U hoop my lewe oorstroom, Heer. Laat my lewe vol wees van U!


Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page