Teks: Prediker 5:17
Toe iemand een keer ‘n koppie voor die bekende Amerikaanse president, Abraham Lincoln, neersit, het hy gesê: “If this is coffee, then please bring me some tea. But if this is tea, please bring me some coffee.” Soos wat ek aldag sê: Die lewe is heeltemal te kort vir slegte koffie. (Sekerlik ook vir slegte tee, né!) Moenie dat soiets jou oorkom nie! Ek wonder nou nog hoe Adam en Eva die koffieplant in die Paradys misgeloop het. In elk geval, kos is ‘n goeie gawe uit God se hand. Ons moet elke dag feesvier saam met die Here en saam met mekaar rondom ‘n stukkie kos. Nee, ons hoef nie eers vir die owerhede of vir die kerk te wag om ‘n amptelike feesdag uit te roep nie - elke dag is ‘n nuwe gawe uit ons Hemelse Vader se hand.
Met ‘n beker koffie of ‘n lekker koppie tee en die geselskap van een of twee vriende is vandag reeds in feesgewaad getooi. O ja, moenie vergeet om die Here as Eregas en as Gasheer by elkeen van hierdie feesgeleenthede te ontvang nie. Nooi Hom uit na elke ete of kuier en vier fees in Sy teenwoordigheid. Moenie die fout maak om die Here slegs aan die begin van die ete met ‘n gebed te verwelkom en daarna te kuier asof Hy nie ook aanbly as die permanente Eregas is nie, want Hy doen! Hy bly agter. Hy is die Here van elke fees, waar Sy kinders aanwesig is.
Gebed: Here, U is vandag welkom as Eregas en Gasheer in my lewe. U is áltyd welkom!
Comments