top of page

Vergelykings en geheime begeertes

Roedolf Botha

Hoe meet ‘n mens jou eie groei en vordering in die lewe? Die meeste mense doen dit deur vergelykings. Ervaring leer ons dat die meeste mense daagliks met geheime vergelykings besig is. Meestal sal ons dit nooit hardop erken nie, maar dikwels is ons besig om in stilte te wonder hoe dit sal wees om die lewe van sommige bevoorregte mense te kon hê. Of om so vaardig of suksesvol soos iemand anders te kan wees. ‘n Medegelowige sê nou die dag vir my dat hy soms in die geheim wens dat hy soos Elon Musk is. Sy rede oor waarom nou spesifiek Musk, het niks te make gehad met Musk se politiese assosiasies nie. Hy het geantwoord hy dat Musk genoeg geld het om nooit te worry nie en boonop is hy uiters briljant en innoverend, om van suksesvol nie eers te praat nie. 


Ek het dit interessant gevind, toe hy dit sê,  omdat ek juis kort vantevore gehoor het hoe Elon Musk oor homself praat. Hy het onder andere gesê:


“My mind is a storm. I don’t think most people would want to be me. They think they would want to be me, but they don’t. They don’t know. They don’t understand.” 

‘n Mens weet nooit wat jy dit beteken, wanneer jy soos iemand anders wil wees nie. Wat mense eintlik bedoel, wanneer hulle dit sê, is dat hulle die persoon se voordele en goeie eienskappe wil geniet, maar hulle dink nie daaraan dat sulke persone ook probleme het nie. Somtyds groot probleme, wat ons beslis nie sou wou hanteer nie. Ek dink ook aan wat Jesus vir Petrus gesê het, toe dié Hom uitgevra het oor wat met Johannes gaan gebeur: 


“Volg jy My!” 

Vergelyking is ‘n vreugdedief. God is goed. Daarom sê Hy dat ons onsself nie met ander moet vergelyk nie. Paulus gee vir ons baie goeie raad, wanneer hy in Galasiërs 6:4 sê:


“Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: As dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van 'n ander te vergelyk.” 

As jy wil weet of jy geestelik vorder, is vergelyking met ander uiters futiel en selfs skadelik. Ander mense het hulle eie unieke verhouding met die Here, hulle eie persoonlikhede en hulle eie worstelinge. Vergelyking met ander lei net tot prestasie-beheptheid of nuwe kreatiewe vorme van wettisisme.


Paulus sê egter wel dat ons ons eie lewens moet ondersoek. Geestelike evaluasie is belangrik anders sal ons nooit weet of ons vorder nie. God is goed. Daarom wil Hy hê dat ons in ons karakter moet groei. Ek weet egter nie of dit ‘n goeie ding is om jouself selfs met Jesus te vergelyk nie. Jesus is natuurlik ons lewensideaal, ons eindpunt, ons lewensdoel. Saam met Hom groei ons elke dag om Sý karakter meer en meer te openbaar. Ons wil soos Hy wees. Maar hoe meet ons ons vordering?


Paulus se punt is: Meet jou vordering vandag liewer aan wie jy gister was. Vra liewer: Is ek vandag meer liefdevol as gister? Het ek vandag meer vreugde as gister? Het ek meer vrede as gister? Het ek toegeneem in my vriendelikheid, goedheid, getrouheid, my nederigheid en my selfbeheersing? Dis geestelik meer produktief om jouself aan jouself te meet, as aan ander. Doen dit, terwyl jy Jesus alleen voor oë hou. As jy vandag beter vaar as gister, dan weet jy jy het gegroei. Daar was vooruitgang. Vier dit. 


Indien ek nie beter vaar as gister nie? 


Dan vang die genade van die kruis jou. Dan vra jy vergifnis en begin weer. 

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page