Verwondering gebeur, wanneer ons asem behoorlik weggeslaan word. Dit gebeur, wanneer ons verstom voor die skoonheid van ’n natuurtoneel staan, of wanneer ons deur die grootsheid van ’n spesiale oomblik in ons lewe oorweldig word. Hoor net hoe beskryf Paul Pearsall sulke verwondering (in Engels bekend as awe):
“Awe is a sacred hunch, an overwhelming emotion that indicates that something within us is sensing something about the world that our brain has yet to discover.”
Verwondering is broodnodig vir ons geloof. Vra vir Tomas, een van Jesus se dissipels. Tomas was op daardie eerste Sondagaand na Jesus se opstanding afwesig, toe Hy aan Sy dissipels verskyn het. Toe die ander dissipels vir Tomas hiervan vertel, het hy geweier om dit te glo. ‘n Week later het Jesus weer besoek by hulle kom aflê. Tomas was ook daar. In daardie einste oomblik toe hy vir Jesus sien, het sy kleingeloof die pad gevat. Sy kleingelowige hart is in een oomblik opgegradeer vanaf verwonding na verwondering. Hy het voor Jesus neergeval en verwonderd uitgeroep: “My Here en my God.” Stel jouself oop vir sulke verwondering in Christus se teenwoordigheid. Dan gee al daardie verwonding en seer, wat dalk nog in jou binneste skuil, blitsvinnig pad.
Comments