Lees Galasiërs 5:22
‘n Wapenstilstand - dis vrede. Dalk, maar vrede is nie net die staking van vyandelikhede nie. Dis ‘n wapenstilstand van die hart ook! Wanneer alle vyandelikhede in my hart tot swye kom en die Here se rus oor my spoel, dan wen vrede. Shalom, daardie omvattende hemelse vrede, wat van God se kant af die hemelse walle oorstroom en na ons toe vloei, maak ons bonsende, onstuimige, kwaai harte stil. Dit bring rus in ons. Kalmte is dan ons grondgebied en rus in God ons belewenis. Sagte vrede van die hart, vloei vinnig oor na ons verstand en die res van ons lewe.
Waar die Gees aan die werk is in Sy mense se lewens, daar kom hulle tot egte vrede. Dan skarrel hulle nie meer angstig soos besige miere rond nie. Ook is hulle dan nie van vroegdag tot laatnag oordadig besig nie. Nee, hulle is kalm en rustig. Hulle lewens is veilig in die hande van hul Vader. Hulle vertrou Hom volledig vir die detail en die groter prentjie van hul lewe. Hulle het alles klaar aan die Gees se bestuur oorgegee – hul verlede, hede en toekoms! Mense met hemelse vrede in hul aardse harte proe reeds nou al iets van die hiernamaals. Die ewige feesmaal se voorgeregte is nou reeds op hul tafel en dit laat hulle glimlag en bly wees.
Gebed:
By U waters van vrede wil ek my dors vandag kom les, God Drie-enig. Amen.
Comments