top of page
Stephan Joubert

Vreugde

Lees Galasiërs 5:22

 

Party kerkmense begryp nie hoe omvattend die Heilige Gees se vrymaakwerk regtig is nie. Vir hulle bestaan godsdiens maar net uit die stiptelike gehoorsaming van ’n lang lys moets en moenies. Hulle is meestal net besorg oor wat reg en verkeerd is - of jy dit mag doen, dat mag eet, hieraan mag deelneem, daarnatoe mag gaan ... Jesus sê in Matteus 11:27-30 dat Hy gekom het om ons te vry te maak van ’n neerdrukkende godsdiens. Sy juk is sag en sy las is lig. Vir Jesus bestaan godsdiens nie in die uiterlike nakom van ’n ellelange lys wette en voorskrifte nie. Dit mag dalk indrukwekkend vertoon as ‘n mens ’n klomp godsdienstige wette onderhou, maar dis omtrent al.

 

Jesus se hart klop warm wanneer vreugde in ons wen. Ja, dit oorskryf ons nakoming van lyste moets en moenies. Vreugde is God se karakter. Daar waar God is, wen vreugde. Die engele sing en loof Hom dag en nag. Vreugdestraat is waar God woon. Daar tussen Sy engele en tussen die lofgebede van Sy volk woon Hy. As ons vir mekaar sê dat die Here se pad moeilik is, dan is dit die waarheid, maar dis nog nie die volle waarheid nie. Want hierdie pad is ook oorvol vreugde. Die Gees van die Here strooi arms vol blydskap in die lewens van almal, wat hierop loop. Weet jy waarvan ek praat?

 

Gebed:

Saam met die engelekore en U volk wil ek prysliedere sing vir U, God! Amen.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page