top of page
Stephan Joubert

Vriendelikheid

Lees Galasiërs 5:22

 

Wanneer die Gees vrye toegang tot al die kamers van jou lewe het, dan verander al die verhoudings, waarin jy jouself bevind. Dan word jy vriendelik. Dan word jy ‘n Jonatan, wat deur dik en dun by ander staan, boonop met ‘n glimlag in jou hart en op jou gesig.

 

Dalk ken jy die uitdrukking dat jy al daardie seerkry dinge, wat mense soms aan jou doen, in sand moet skryf, maar dat jy die goeie dinge, wat hulle vír jou doen, op klip moet graveer. Wyse woorde. Die wind waai sand maklik deurmekaar, maar dit kan nie juis veel met klippe regkry nie. Oppas dat jy nie dinge, wat mense soms aan jou doen, teen hulle hou sodat jy hulle in dié proses verloor nie. Wees elke slag die minste. Dis egte vriendelikheid in die Gees se oë. Stap eerste terug. Steek ‘n hand van vergifnis uit, want as jy jou vriende verloor, dan het jy te veel verloor. Moenie dat dit gebeur nie. ‘n Goeie vriend is meer as goud werd. Elke vriend is ‘n gawe van die Here om jou lewe ryker, voller te maak. Moenie jou vriende verwaarloos nie. Bid gereeld vir hulle. Kuier saam met hulle. Laat hulle besef hulle is spesiaal en baie kosbaar in jou lewe.  Beskerm hulle goeie naam. Dra hulle as hulle die slag struikel of val. Wees altyd van jou kant af vriendelik.

 

Gebed:

Verander my hart sodat ek ‘n vriendelike vriend vir my vriende kan wees, Gees van God. Amen.

Comentarios


Los comentarios se han desactivado.
bottom of page