Wat bedoel ons met diensbare leierskap?
- Roedolf Botha
- 2 days ago
- 3 min read
So baie mense, veral kerkmense en Christene is geweldig lief vir die idee van diensbare leierskap. Ek kom egter agter dat mense redelik verward daaroor is , aangesien almal verskillende idees het van wat die inhoud van diensbare leierskap is. In sy boek Lead with Intent, gee Hermann du Plessis ‘n baie grondige beskrywing van wat diensbare leierskap behels. Hy begin eerstens met ‘n paar misverstande aangaande diensbare leierskap, wat dringend uit die weg geruim moet word.
Wanpersepsies, wat aangaande diensbare leierskap bestaan, is:
Diensbare leierskap beskryf ‘n leierskapsmodel. Soos ek in ‘n vorige nuusbrief aangedui het, kan diensbaarheid nooit ‘n model wees nie, maar dien as die nederige gesindheid agter enige model van leierskap, wat deur ons as Jesus se dissipels gevolg word .
Mense gaan bo-oor my loop, wanneer ek te veel omgee. As mense bo-oor jou loop, is jy nie besig met diensbaarheid nie. Diensbare leierskap dien altyd die ander se holistiese en langtermynwelstand en die ander word nie gedien, wanneer jy hulle toelaat om met die jou die vloer te was nie. So ‘n vorm van leierskap is nie tot die ander se voordeel nie.
Diensbare leiers kan hulle mense nie aanspreeklik hou nie, want hulle kan nie te streng wees met hulle mense nie. Jesus self dien hier as die beste voorbeeld. Hy was sekerlik diensbaar, maar Hy het ook nie geskroom om Sy mense tot verantwoording te roep nie. As diensbare Leier kon Hy vir Petrus sê: “Gaan weg agter my Satan!”
Ek moet die hele tyd vir my mense beskikbaar wees sodat ek nie tyd vir ander goed sal hê nie. Weereens: Indien jy jou mense van jouself afhanklik maak, is dit nie goeie leierskap nie.
Ek moet mense toelaat om te alle tye hulle opinies te lug, selfs wanneer dit vergaderings ontwrig. Nee, inteendeel. Skep prosesse deur middel waarvan wysheid ontgin kan word, wat mense help om te verstaan wanneer om te praat en wanneer om te luister.
Ek is bang ek ontaard in ‘n semi-berader, wat elke dag na almal se persoonlike probleme luister. So iets mag dalk met diensbaarheid verwar word (eintlik nie eers nie), maar beslis nie met goeie leierskap nie. ‘n Leier moet toesien dat sy personeel versorg word. Hy hoef egter nie self die versorger te wees nie.
As ek mense al hierdie vryheid gee en almal doen wat hulle wil, sal ons nie veel bereik nie. Diensbaarheid staan in diens van ander se welstand en is tot hulle uiteindelike voordeel. Dis nie tot enige span se voordeel wanneer hulle toegelaat word om almal ewe veel gesag te dra nie. Diensbare leierskap relativeer nie die geestelike gesag van die leier nie.
Ons kan nie met duidelike doelwitte werk nie - dit gaan te veel druk op my mense plaas. Doelwitte is juis gereedskap, wat werk makliker en duideliker maak, nie moeiliker nie.
Dan beskryf du Plessis wat diensbare leierskap wel is:
Diensbare leierskap is transformasieleierskap. Hierdie soort leierskap is waar die leier die inkoop en guns van sy eie mense beleef deur middel van sy eie visie, karakter en gedrag. Dit staan teenoor transaksionele leierskap, waar ‘n leier poog om sy posisie, mag en selfs straf te gebruik om sy sin te kry.
Diensbare leierskap is egte (outentieke) leierskap. Dit is waar leiers interaksie met hulle eie mense het deur middel van menslikheid, openheid, eerlikheid en kwesbaarheid. Hulle lei eerstens deur hulle verhoudings met hulle mense en dan deur beleid en reëls.
Diensbare leierskap is geestelike leierskap. Hierdie soort leiers is baie diep bewus van ‘n geestelike (transendente) dimensie van hulle leierskap. Hulle weet dus dat hulle leierskap ‘n hoër doel dien as hulleself en dat hulle leierskap aan hulle toevertrou is deur Iemand met hoër gesag as hulleself. Daarom sien hulle hul eie leierskap baie pertinent as ‘n gawe aan hulleself, maar ook aan die mense aan wie hulle toegewys is. Daarom kan sulke leiers met mag vertrou word, aangesien hulle vrygewig daarmee omgaan. Almal rondom hulle word ontvangers van die mag en verantwoordelikhede, wat vryelik deur die leier uitgedeel word.
Dis die soort leierskap waarvan Jesus praat wanneer Hy sê:
“Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen, wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. (Mk 10:42b-44)
Comentarios