top of page

Wees die Here se lig, al word jy nie waardeer nie

Stephan Joubert

“Omring jouself net met mense wat jou waardeer. Maak daardie mense jou vriende wat aan jou die nodige erkenning gee wat jy verdien.” Hierdie idee dat almal jou respek en erkenning skuld en dat jy jou moet onttrek aan diegene, wat dit nie aan jou bewys nie, is baie populêr in ons dag. In 2025 gaan jy so gereeld in sulke idees vasloop dat jy sou kon dink dit staan op elke tweede bladsy van die Bybel. Wel, dit doen nie!


Vanjaar gaan jouself gereeld bevind tussen mense wat ander waardes en beginsels as jyself aanhang. Hulle gaan jou definitief nie ophemel nie. Hulle gaan nie dink jy is die smaak van die week nie. Moenie hulle summier afskryf en padgee nie. Moenie in jou eie geestelike seepbel leef nie. Dan verskraal jy jou kans om die Here se lig in die wêreld te weerkaats. Dan verskraal jy jou invloed. Leef volgens die Here se standaarde van waarheid, integriteit en liefde op elke plek waar jy jouself bevind. Wees orals met integriteit aanwesig. Weet dat Jesus jou vertrou met Sy evangelie, veral op daardie plekke waar jy onderwaardeer word. Jy wag nooit op ander se erkenning en respek,  en dan beantwoord jy dit dan met respek en erkenning van jou eie terug nie. Jy bewys respek, al ontvang jy niks terug nie. Jy doen goed, al word jy soms ingedoen. Jy leef met liefde, al word dit in jou gesig teruggegooi. Jy volg die roete van Jesus. Dit vra van  jou ’n kruis om ‘n kruis te dra. Dit kos jou soms vernedering en seerkry, maar dit is die regte pad. Dit is Jesus se goeie pad. O ja, Hy stap altyd hier saam met jou.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page