Jare gelede het die gospelduo, Prophet, ‘n liedjie gesing met die naam Suurtier. Aan die begin van die musiekvideo sien ‘n mens die kerkgangers met lang gesigte kerk toe gaan. Hulle sing: “Ek is ‘n suurtier, maar ek is darem hier. Ek kan nie lag nie, want ek het nie die krag nie.” Dit is baie hartseer, maar ongelukkig waar. Kyk maar na jouself en mede-Christene. Soms kan ons maar suurtiere wees!
Miskien moet ons in 2025 ‘n kopskuif maak om minder van ‘n kommerkous en ‘n suurtier te wees. Miskien moet ons elke dag begin met Psalm 118:24: “Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.” Wees bly vir nog ‘n dag, wat aan jou lewe toegevoeg is. Wees bly vir nog ‘n kans om ‘n verskil te in iemand anders se lewe te maak. Jy het nog ‘n kans om reg te maak, waar jy verbrou het.
Dit is belangrik om te onthou dat geluk en vreugde nie dieselfde is nie. Geluk is iets vir die oomblik en van verbygaande aard. Vreugde is ‘n hartstoestand. Vreugde kom, wanneer ons van God se genade en guns bewus word. Jy ervaar ware vreugde, wanneer jy besef hoe lief God jou het en hoe duur Jesus vir jou verlossing aan die kruis betaal het. Jy ervaar vreugde, wanneer jy besef dat God jou telkens nog ‘n kans gee.
Vreugde is iets waarna ons almal verlang, maar soms lyk dit asof dit buite ons bereik is. Die lewe gebeur en ons almal beleef soms vreugdelose tye. Selfs die vroom Job wens in Job 3:11 dat hy nooit gebore was nie. Hoe kan ons as Christene in ‘n wêreld vol seer, teleurstelling en ontnugtering dan vreugde beleef?
Ek glo vas dat hoe meer tyd jy in God se teenwoordigheid deurbring, hoe meer bewus sal jy van God se goedheid en krag word. Dit is belangrik om op God te fokus en nie die dinge wat ons vreugde steel nie. Hoe nader jy aan die Here leef en doelgerig op Sy goedheid fokus, hoe meer vreugde sal jy beleef. In Johannes 15 lees ons dat een van die sleutels tot vreugde is om in gehoorsaamheid aan God te leef.
Dit is lekker om te weet dat God ander mense vir ons gegee het. Ons staan nie alleen nie. Ons is daar om mekaar se laste te dra en te versterk. Vind vreugde in jou verhoudings met ander mense. Ondersteun en bemoedig hulle en weet dat hulle ook daar is om jou by te staan in moeilike tye.
Henri Nouwen het geskryf:
Joy does not simply happen to us. We have to choose joy and keep choosing it every day.”
Vreugde is ‘n handelsmerk van die Christen se lewe. Wees ‘n vreugde-ambassadeur vir die Koninkryk!
Comments