Daar is ‘n gesegde: “What's in the well comes up in the bucket” en dit weerspieël wat in my hart aangaan. My gedagtes en emosies beland in my put, asook my reaksie op mense om my se woorde en gedrag. Wat in my put is, gaan in my woorde en optrede weerspieël word.
Waarmee is my “put” gevul en wat word in my “emmer” opgetrek?
As my put met bitterheid, angstigheid en onsekerheid gevul is, gaan my gesprekke vol daarvan wees. Wanneer ek in die geselskap van iemand is, wat negatief en oor alles ontevrede is, wat angstig oor die toekoms en landsituasie is, voel ek naderhand gedreineerd en vuisvoos.
Vir my om iets positiefs aan ander te gee, moet ek self lewende water in my put hê. Vul ek my put met dankbaarheid vir al die oorvloedige seën, wat ek ontvang het? Deur gereeld tyd in gebed en met die Woord by die Here te spandeer, verander die Heilige Gees my hart en lewe, word my put met lewegewende water gevul. Wanneer ek of ander dan daaruit skep, is dit suiwer, koel, verfrissende water, wat dors les, vertroos, verfris, opbou en versterk. So word ander ook emosioneel en spiritueel versterk. Ek kan ander voed, want ek is self gevoed. Weg is die angstigheid, knorrigheid, irritasie en bitterheid. Wanneer my put met Skrifwaarhede en met die Heilige Gees gevul is, en ek self genesing vir my eie seer en teleurstellings gevind het, kan ek ‘n verskil in ander se lewens maak.
Die vroeë kerkhervormer, Martin Luther, het soms in periodes van depressie verval, wat dae lank kon aanhou. Gedurende een van hierdie tydperke het sy vrou, Katie, besluit om swart rouklere aan te trek. Luther het uiteindelik opgemerk en gevra: "Gaan jy na 'n begrafnis toe?" Sy het geantwoord: "Nee, maar aangesien jy optree asof God dood is, wou ek saam met jou rou." Katie Luther het Martin daardie dag 'n belangrike les geleer, naamlik dat hoop en optimisme 'n keuse is, nie 'n gevoel nie.
Wanneer ek alles wat God al vir my gedoen het onthou, alles wat Hy nog gaan doen, en alles wat Hy belowe het dat Hy nog sal doen, sal my put met vrede en vreugde gevul wees. Ek kan dan met vreugde na die mense om my uitreik en so nie net hulle lewens verander nie, maar ook myne. “For it is in giving that we receive; it is in pardoning that we are pardoned.” (St. Francis of Assisi)
Comments