top of page

Wie sê vir jou jy is ’n gelowige?

Stephan Joubert

Wie sê vir jou jy is ’n gelowige? Lees wat Stephan Joubert hieroor verder skryf in sy nuutste Goeie Nuus vir die week.
Wie sê vir jou jy is ’n gelowige?

Moenie vir my sê jy is ’n gelowige nie; laat ek vir jou sê jy is een.” Dit het ek iemand een keer hoor sê. Hy het bedoel ons geloof moet so duidelik sigbaar wees in alles wat ons doen dat ander mense dit maklik moet raaksien. Maar die feit is: dit gebeur nie aldag nie. Soms dra ons lewensboom nie goeie vrugte nie. Ons is nie altyd goeie advertensieborde vir God se liefde nie. Kleivoete is een van die minder aangename realiteite van ons elkeen se geloofslewe. Nee, dit is nie ‘n verskoning nie. Dit is net wat dit is. Natuurlik hoort dit nie so nie. Maar dit is in sulke tye dat ons juis ook agterkom hoe genadig die Here met ons elkeen is.


As ons val, kom tel God ons elke slag op, soos wat Psalm 37 sê. Nee, Hy is nie blind vir ons oortredings nie. Ons sondes dra nie Sy goedkeuring weg nie. Alles behalwe. Maar die Here skryf ons nie summier af as ons struikel nie. Of as ons geloof klein is nie. Nooit hou ons op om Sy kinders te wees nie. Christus het veels te duur betaal vir ons elkeen, wat Hom aanroep as ons Heer, dat ons ooit uit Sy hand kan val. Hy weier om ons aan onsself oor te laat. Ons is Syne vir tyd en ewigheid. In 1 Johannes 3:1 sê Johannes dit padlangs: “Kyk net watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God. En ons is dit ook.” Dit is ons hoop en ons anker. God self sê in Sy Woord vir ons: “Laat Ek vir jou sê wie jy is: Jy is my kind!

Comments


bottom of page