top of page
Elmarie van der Westhuizen

Selfbeheersing – veral wanneer ek praat


”Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak”. Mattheus 15:18

‘n Vriendin vertel my dat sy onlangs tydens ‘n koffie-kuier, haar maandelange frustrasie met ‘n kollega, wat nie haar kant bring nie, laat oorborrel het in ‘n stortvloed van woorde. Toe sy later rustiger en kalmer was, het sy skaam gekry oor haar onbeheersde optrede en moes sy die volgende dag gaan verskoning vra vir haar uitbarsting.

Ek betrap myself dat ek ook hieraan skuldig is. Dat ek toelaat dat my emosies met my weghardloop en dan agterna skuldig voel oor wat ek gesê het. In die hitte van die oomblik besef ek nie die gevaar nie, gooi nie wal nie en storm maar voort. Dis eers agterna wat ek die potskerwe moet optel.

Daar is ‘n goue reël om nie ‘n epos te stuur wanneer ons kwaad is nie, maar om te wag tot die volgende dag wanneer ons kalmer is en groter perspektief het. Daardie reël is net so van toepassing op my woorde en emosies.

Paulus waarsku die Christen gelowige dat daar nie plek vir onbeheersde woorde in ons lewe is nie. Om te dink voor ek praat en myself te bedwing is eenvoudige en praktiese raad, maar eintlike is hierdie gedrag net ‘n aanduiding van ‘n dieperliggende hart- en gesindheidsprobleem. Dis my hart wat my optrede bepaal – dit wat ek toelaat om in my gedagtes te broei en groei, gaan in my woorde, en ook in my dade, uiting vind.

Dit is waarom Paulus die Galasiërs daaraan herinner dat die Heilige Gees hulle gedrag moet bepaal. Dit beteken dat ek daagliks en van oomblik tot oomblik moet kies om my hele lewe onder beheer van die Heilige Gees te plaas, want dit gaan bepaal hoe ek my emosies en woorde hanteer.

Die uitdaging van die Woord is dat ek en jy tonge sal hê wat genesing vir die mense rondom ons bring. Dat ons in liefde die waarheid praat, slegs woorde gebruik wat ons hoorder opbou. Dat ons woorde nie woorde van vernietiging en verleentheid sal wees nie, maar woorde van waardigheid en waarheid.

Ek sê so maklik dinge agter iemand se rug wat ek nie bereid is om voor die persoon te sê nie – gewoonlik woorde wat sou seermaak en verkleineer. Dis dan ook hierdie woorde (en primêr die gedagtes wat daartoe aanleiding gee) wat ek onder beheer van die Heilige Gees moet plaas. Dis dan nie net ‘n geval van “Wat sou Jesus doen” soos wat ons maklik met ‘n armbandjie adverteer nie, maar eintlik “Sou ek hierdie teenoor Jesus sê of in sy geselskap sê?”

Kom ons maak hierdie gebed van Dawid ook die gebed van ons hart:

Psalm 19:15 Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.”


bottom of page