top of page
deur Marius Nel

The domino effect [resensie]


Davis Bunn. The domino effect: A novel. Bethany House. 2016

As jou boeke verskeie topverkopers insluit en al meer as 7 miljoen kopieë verkoop het en jy as Writer-in Residence by Regent’s Park College van die Universiteit van Oxford aangestel is, bring ‘n nuwe boek meer as ‘n fladdering in die duiwehok. Trouens, selfs die internasionale media neem kennis en bespreek jou werk.

En in hierdie boek skryf Davis Bunn oor ‘n onderwerp wat uiters relevant vir ons dag is, van geldmarkte wat soos domino’s ineen kan stort (en reeds gestort het!).

Esther Larson is ‘n risiko-analis by een die grootste banke in Amerika wat meer en meer onder die indruk kom dat sy ‘n tydbom blootgelê het wat wag om af te gaan en wêreldmarkte dramaties ineen gaan laat stort. Haar eie werkgewer is deel van die probleem as dit al hoër risiko’s neem met beleggings wat al hoër rentekoerse bied. Esther besef wat haar eie risiko’s is as sy begin praat oor wat sy meen ‘n tsoenami kan wees wat in aantog is en wêreldmarkte soos domino’s ineen kan laat stort, regoor die wêreld.

Wanneer sy die moed van haar oortuiging neem, kom sy te staan voor ‘n internasionale sameswering wat op gierigheid en winsbejag gefokus is en bereid is om enigiets in die pad te vernietig. En dit sluit die lewe van ‘n mens in wat dit bedreig.

Die verhaal se agtergrond is nie uit die duim gesuig nie. In die afgelope jare het die wêreld se top twintig banke boetes moes betaal van 235 miljard dollar vir hulle onregverdige en onetiese gedrag. Want banke funksioneer op die beginsel dat hulle markte swaai om groter wins te maak sonder om voorsiening te maak vir ander wat groot bedrae geld daardeur verloor. Internasionale markte het ‘n dobbelspel geword waar die groot markspelers die mark manipuleer om hulle belange te dien.

Die skrywer het studies in internasionale ekonomie en finansies in die VSA en Engeland voltooi en ken die markte goed genoeg om situasies te beskryf wat realisties is. Daarom oortuig die boek. Die boeiende spanningslyn en gemaklike skryfstyl maak dit ‘n ervaring om te lees. Die verhaal sleur jou mee en langs die pad sien jy watter rol geloof in die veld van high financing kan speel.

‘n Gawe boek om die nuwe jaar mee af te skop!


bottom of page