top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Om te cope met moeilikheid


Dis altyd vir my so interessant hoeveel mense dikwels probeer om antwoorde te gee op waarom sekere tragedies nou eintlik plaasvind. Na die brande in die Kaap is daar weer geestelike “gurus” wat “weet” waarom sulke dinge gebeur. Sommige beweer dis omdat God die land oproep tot bekering of omdat God sonde straf of omdat die duiwel ons op die een of ander manier aan die kort hare beet het. Lyk my sommige mense leer eenvoudig nie uit die Bybel en die geskiedenis nie. Indien wel sou ons sien dit selde die moeite werd om te probeer uitvis of profeteer waarom God nou eintlik iets toegelaat het. Ons weet eenvoudig nie.

Job se vriende het byvoorbeeld uitstekend gevaar terwyl hulle in stilte saam met hom gesit het in sy lyding. Die moeilikheid het gekom toe hulle begin antwoorde uit dis het.

Tydens Jesus se tyd was dit juis hierdie Fariseër-teologie wat veroorsaak het dat die dissipels van Jesus in Johannes 9 vir Hom gevra het of dit nou die blinde se eie sonde is of dié van sy ouers was wat vir sy blindheid verantwoordelik was. Jesus se antwoord? Dis nie een van hulle se skuld nie. Waar dit presies vanaand kom of wie dit nou eintlik veroorsaak het is nêrens in Jesus se lering relevant nie.

In ‘n ander gedeelte (Lukas 13: 1-5) praat Jesus self oor spesifieke tragedies in die onlangse geskiedenis van die Jode toe Pilatus sekere Galileërs laat doodmaak het. Hy sê:

“Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? Nee, sê ek vir julle… Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem? Nee, sê Ek vir julle…”

Die uiteindelike boodskap van die Bybel en veral die Nuwe Testament is dat antwoorde nie die antwoord is nie! Job het nooit ‘n antwoord gekry op waarom hy gely het nie en in Lukas 13 vertel Jesus ook nie waarom hierdie tragedies plaasgevind het nie. Waarom nie? Want antwoorde help ons nie om gesond te word nie. Om vrae te vra is goed en reg maar slegte dinge gebeur eenvoudig soms en dis nie vir ons om te weet hoekom nie. Die vraag is eerder hoe Jesus ons leer om te “cope” met tragedie en hoe ons behoort op te tree wanneer ander mense ly. Vele medegelowiges in die geskiedenis het vertroosting en leiding ontvang vir hoe om te dink en om te gaan met swaarkry.

Paulus gee vir ons verstommend eenvoudige raad vir wanneer ons iemand anders teëkom wat ly, soos wat nou in die Kaap gebeur. Hy sê eenvoudig:

“…treur saam met dié wat treur” – Romeine 12:15.

Moenie probeer advies gee nie. Moenie probeer profeteer nie. Moenie blameer nie. Moenie probeer verduidelik nie. Nee, plaas net jou arm om die persoon en verander jou eie gemoedstoestand totdat jy ook die pyn voel wat hulle voel. Treur, huil en stort trane saam met hulle. En ja, maak jou hande vuil en help waar jy kan.

Wees egter by hulle en wees lief vir hulle totdat die son weer opkom en die donkerte verby is.


bottom of page