top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Openbaring hoofstuk 8 [video]


NOGMAALS SEËLS EN TROMPETTE (OPENBARING 6; 8-9)

In Openbaring 4-5 was ons saam met Johannes as genooides in die hemel tydens die Lam se troonbestyging. Dit word opgevolg deur die oopmaak van sewe seëls deur die Lam (6:1) en die loslaat van vier ruiters op aarde. Hierdie ruiters tree regdeur die geskiedenis op. Die eerste perd moet nie met die Ruiter op die wit perd van 19:11-13 verwar word nie. Daardie Ruiter is Christus Self, maar hierdie een verteenwoordig dwaalleer. Hy lyk verbluffend baie soos Christus, maar sy wapen is ʼn pyl en boog teenoor Christus met sy swaard. Kompleet soos wat die Bose homself vermom as ʼn engel van die lig (2 Kor. 11:14), verblind dwaalleraars mense om valshede vir die waarheid aan te sien. In 6:3-4 is ʼn tweede perd op die toneel wie se ruiter oorlog gedurende die eindtyd bring. Die derde ruiter (6:5-7) bring weer hongersnood en inflasie omdat koring nou agt keer meer, en gars vyf keer meer as gewoonlik kos. Die vierde ruiter bring dood oor ʼn kwart van die aarde. Te midde van God se oordeel is daar tog steeds genade te vind omdat die ganse wêreld nie vernietig word nie.

Terwyl die vier ruiters dwaalleer, oorlog, armoede en dood op aarde bring, verskuif die toneel hemelwaarts wanneer die vyfde seël gebreek word. Gelowiges wat ter wille van hulle geloof in Christus as martelare gesterf het, skuil tans daar onder die hemelse altaar. Hulle is nie in ʼn slaaptoestand nie, maar wawyd wakker. Trouens, hulle roep hard om wraak oor wat hier op aarde met gelowiges gebeur wat ly en sterf ter wille van hulle geloof (6:10). In reaksie hierop kry hulle almal wit klere (wat hulle reinheid en onskuld uitbeeld), en word beveel om ʼn kort rukkie te wag (dit wil sê, vir die volle tyd van swaarkry op aarde) totdat die volle getal gelowiges by God is.

Hoe antwoord God die martelare se gebed in 6:15-17; 15:3; 16:5-7; 18:6, 20 en 24?

Kosmiese katastrofes volg regdeur die skepping met die oopmaak van die sesde seël in 6:12. ʼn Son- en maanverduistering vind plaas; sterre val en die hemele verdwyn (vgl. ook Jer. 4:23-26; Eseg 32:8). Hierdie seël se impak is kosmies en universeel: Alle konstellasies in die ruimte en almal op die aarde word uiteindelik getref wanneer die sesde seël die groot dag van die Here inlei waar goddeloses een en almal voor God se oordeelstroon moet verskyn (6:14-15)! Vir diesulkes is daar geen uitkoms of wegkruipplek meer nie. God se ewige oordeel wag op hulle.

Saam met hierdie seëls, blaas ʼn aantal trompette ook gedurende die tyd van swaarkry op aarde volgens Openbaring 8-9. Hierdie visioene beskryf in beeldryke taal (wat sterk herinner aan die tien plae in Egipte in Eksodus 7-10) hoe chaos gedurende die eindtyd in die skepping heers. Nou word nie net meer ʼn kwart nie, maar ʼn derde van die wêreld deur God se oordele getref! Nogtans is daar steeds genade: nie alles word vernietig nie. Ons verneem van hael en vuur wat met bloed vermeng is, wat die land tref (8:7). Ook die see word getref en daar en dan in bloed verander (8:8-9; vgl. dieselfde reaksie as die tweede wraakbak in 16:4 uitgegooi word). Ook die vars water word bitter volgens 8:10-11 (terwyl dit bloed word in die geval van die derde wraakbak in 16:4). Die benaming “Bitterals” vir hierdie natuurramp impliseer dat swaarkry deur almal geproe word as deel van God se straf. Met die vierde trompet in vers 12 vind ʼn kosmiese verduistering plaas. Dan hoor ons in vers 13 hoe ʼn arend se drie weë-uitroepe hoog in die lug weerklink (teenoor die hemelse lofroep in 4:8). Nogmaals wys dit indirek op God se genade te midde van sy straf oor die sondige wêreld. Waarskuwings word immers nog uitgedeel!

Met die blaas van die vyfde trompet (9:1-11) val ʼn ster op die aarde (as ʼn moontlike verwysing na ʼn hemelse wese wat God se oordeel moet kom uitvoer) en ontvang ook die sleutel na die bodemlose put of onderwêreld. Die onderwêreld is die woonplek van bose magte. Die grens tussen hierdie goddelose magte en die mensewêreld word egter nou opgehef as dit oopgesluit word. Bose magte stroom die wêreld in. ʼn “Godsverduistering” vind plaas as bose sprinkane op die toneel verskyn (Eks. 10:1-20; Joël 2). Vir vyf maande (die normale leeftyd van sprinkane) oefen hulle hul mag uit. Hulle teikens is niegelowiges, oftewel diegene wat nie die merk van God op hulle voorkoppe het waarmee die engel van God alle volgelinge van die Lam aan die begin van die eindtyd gemerk het nie (7:3-4; 14:1). Hierdie sprinkane simboliseer Sataniese wesens; vandaar dat hulle ook met skerpioene vergelyk word (Luk. 10:19; 11:12). Ook hoor ons in 9:7-10 hulle is oorlogswesens. Johannes se opstapeling van beelde wat hulle boosheid en oorlogsugtigheid uitdruk, onderstreep dit. Boonop is hulle sataniese aanvoerder Abbadon (in Hebreeus) of Appolion (in Grieks), wat “Vernietiger” beteken (vers 11).

Hoe word die onderaardse plek van die dood beskryf in Job 26:6; Ps. 88:12; Spr. 15:11 en 27:20?

In 9:13-21 weerklink die sesde trompet wat vier engele loslaat wat by die Eufraat ingeperk is. Dit was die oosgrens tussen die Romeine en die barbaarse Partiërs. Vroeër het die Israeliete dit ook as die grens tussen hulle en heidense volke beskou. ʼn Derde van die mensdom sterf in reaksie op hierdie ruiters se optrede. Vers 17-19 bied ʼn opstapeling van skrikwekkende beelde, wat nie een vir een uitgelê moet word nie maar in die geheel beskou moet word ter uitdrukking van die oorweldigende aard van die straf wat hierdie ruiters op die sondige wêreld loslaat. Dat hierdie straf nie op God se kinders gemik is nie, blyk uit vers 20-21, waar ons hoor dat dit geen bekering onder niegelowiges tot gevolg gehad nie. Sonde en goddeloosheid neem steeds net toe. Dit is die tragiese realiteit van die eindtyd.

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page