top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Openbaring Hoofstuk 11 [video]


DIE KERK AS DIE TWEE GETUIES

In ʼn beeldryke visioen beskryf Johannes in Openbaring 11 wat die roeping van die kerk hier op aarde behels gedurende die laaste dae. Ons verneem eerstens dat, terwyl God se aardse tempel gedurende hierdie tyd van swaarkry steeds meetbaar is (11:1 – dit wil sê, sy aanwesigheid by sy aardse volk is vas en seker), is niegelowiges se terrein (wat in 11:2 met die voorhof van nie-Jode in die tempel vergelyk word) onmeetbaar. Dit wil sê, hulle gaan nie meer lank hou nie. Hulle skend die aardse stad van God sodat Jerusalem nou ʼn simbool van goddeloosheid is. Trouens, dit is reeds sinoniem met Sodom en Egipte (11:8). Hierdie simboliek sluit uiteraard alle aardse sentra van mag in wat weier om God se heerskappy te erken, nie slegs die fisiese Jerusalem van daardie tyd nie. Tog is God se mense voltyds in hierdie einste voorhof aan diens. Met name word die kerk uitgebeeld as twee getuies (synde die waarheid in die mond van minstens twee betroubare getuies, aldus Deuteronomium 19:15). Hulle is soos Moses en Elia, die grooste Geesvervulde leiers van Israel (vers 5-6). Net soos hierdie leiers tree die kerk met groot gesag op vir 42 maande, of 1 260 dae (vers 2-3), of drie en ʼn half dae (vers 9, 11). Hierdie getalle dui op die tyd van swaarkry tussen die hemelvaart en wederkoms. Binne Joodse apokaliptiese werke is drie en ʼn half jaar sinoniem met die vasgestelde tyd van lyding, soos wat hulle uit Daniël 7:25; 9:24-27 en 12:7 al te goed onthou nadat Antioges IV Epifanes, ʼn hellenistiese koning, Israel kort voor die Makkabeërtydperk verplig het om in die tempel tot die god Jupiter te offer. Hierdie tyd, net soos die tydperk van die droogte gedurende Elia se optrede (Jak 5:7) is verstaan as drie en ʼn half jaar. Juis in dié tyd weerklink God se stem egter helder en duidelik deur sy kerk se profetiese optrede.

Die twee getuies word lampstaanders genoem (11:4). Hoe hou dit verband met 1:12 en 20?

Na afloop van die twee getuies se profetiese getuienis en wonderwerke om God se oordeel bekend te maak, kom ʼn Sataniese dier uit die bose diepte op om teen hulle te veg (vers 7-10). Hy maak hulle dood. Aan taal wat herinner aan Jesus se eie dood na sy kruisiging, is die twee getuies se lyke vir drie en ʼn half dae op straat te sien. Vir die eindtyd is lyding en dood dus die kerk se voorland. Onder die goddeloses (Sodom) en vervolgers (Egipte) word hieroor fees gevier. Die kerk se oordeelswoorde het aanvanklik geen bekering in hulle geledere tot gevolg nie. Maar dan vind ʼn dramatiese wending plaas. Die twee getuies begin weer leef (vers 11). Die poorte van die doderyk kan nooit gelowiges se getuienis aangaande Christus stilmaak nie (vgl. Matt. 16:18). Wanneer die wêreld agterkom dat die getuies van Christus nie swig voor die magtiges en konings van die wêreld nie en die Gees se oorredingswerk niegelowiges se harte aanraak (Joh. 16:8-11), kom baie tot inkeer ná die draaipunt in vers 11-13. Terwyl God sy martelare na afloop van hulle aardse stryd na Hom toe neem, blyk dit dat hulle werk op aarde nie verniet was nie. Ná hulle getuienis sterf daar hierdie keer net 7 000 mense in die goddelose stad (teenoor die klein groepie van 7 000 regverdiges wat vroeër in 1 Konings 19:18 tussen die massa goddeloses oorgebly het). Die groot skare wat gespaar word, bewys eer aan God. Dus is die kerk wat enduit getrou bly op die strydveld van hierdie wêreld se profetiese getuienis nooit tevergeefs nie. God sorg vir vrug op die saad wat hulle orals uitstrooi (Mark. 4:26-29). Die koninkryk van God gebeur orals waar sy getuies tot eer van Hom leef, stry en sterf (11:15).

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page