top of page
deur Milanie Vosloo

Laat die Gees jou ánders maak!


Dis nie altyd lekker om te weet dat ons toe nou nié perfek is nie. Dit maak ons ook ongemaklik wanneer die Gees in ons harte fluister dat ons dalk ánders moet dink, praat of optree nie. Tog is daardie soms onwelkome fluistering van die Gees juis sý manier om vir ons te sê dat Hy ons beter kan maak. Dat Hy nie wil ophou om ons meer Hý te maak nie.

God het ons lief soos ons is, maar ... Hy het ons té lief om te los soos ons is, skryf Leighton Ford.

Wanneer jy dus ervaar dat die Gees aan jou karring en jy bewus word van dinge in jou lewe wat nie reg is nie, moet jy weet dat dit eintlik God se manier is om vir jou te sê hoe lief Hy jou het. Dis sy manier om vir jou te sê: “My kind, ek het jou té lief om jou net te los soos jy is. Neem my hand en stap saam met My die pad. Ek sal jou wys hoe om nader aan My te kom. Hoe om méér soos Ek te word.”

Moenie vies of geïrriteerd voel wanneer die Gees met jou werk nie. Onthou eerder Augustinus se woorde: So lank jy ontevrede is met wat jy is, sal jy dít kan bereik wat jy behoort te wees.

Gees van God, werk asseblief met my ... al is dit nie altyd lekker nie!


bottom of page