top of page
deur Milanie Vosloo

“Is tannie Jesus?”


‘n Vrou loop eendag in die dorp toe sy ‘n klein, maer seuntjie op die sypaadjie sien sit. Toe hy met smeekoë vir haar brood vra, het haar hart onmiddellik sag geword en besluit sy op die ingewing van die oomblik om hom sommer net te bederf. Sy laai hom in haar motor, gaan koop vir hom ‘n wegneem-ete van sy keuse en neem hom na ‘n kettingwinkel sodat hy vir hom ‘n paar stukkies klere kan uitsoek. Toe sy agterkom dat hy geen heenkome vir die nag het nie, gaan laai sy hom by ‘n versorgingsoord af en gee aan die mense genoeg geld sodat hy vir ten minste ‘n maand in die nagskuiling kan bly. Toe sy hom die aand met ‘n drukkie groet, gryp hy haar hand, kyk haar aan met oë van bewondering en vra: “Tannie, is tannie Jesus?”

Dink jy mense sien iets van Jesus in jou? Laat jy toe dat Hy jou so vorm, plooi en verander dat daar iets van sy heerlikheid uit jou kan weerkaats?

Nie almal van ons kan iemand finansieel of fisies versorg nie. Maar almal van ons kan deur ons sagte woorde en optrede iemand se siel versorg. Iemand wie se siel dalk klein en maer is ...

Hoe ek kan vandag soos u lyk, Here?


bottom of page