top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Episode 4 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oefening Lees Romeine 5:1 - 11. Paulus lys hier al die voordele, wat hy beleef in die evangelie van Jesus. Kyk hoeveel voordele jy kan raaksien van die evangelie. Kom ons neem die eerste voordeel as voorbeeld: in vers 1 sê Paulus dat God ons vrygespreek het. Dit beteken dat mense wat in Jesus glo, nou in die regte verhouding met God staan. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God. Ons en God is nie meer vyande nie. Hy het ons na sy kant toe oorgebring en ons op hierdie manier verlos van ons eie sonde. Maak ‘n lys van die res van die voordele, wat jy raaksien in verse 1 tot 11, en dink na oor die betekenis en implikasies van elkeen. Neem genoeg tyd hiervoor. Oordenking

  • Hoe maak die goeie nuus van Jesus ons ryker? Kom ons kyk na ‘n paar voordele, wat Paulus beleef in die evangelie.

  • Vrye toegang (v. 2): In die antieke tyd was godsdienstige mense gewoond daaraan dat hulle telkens nuwe offers moes bring om opnuut reg te kry om die aandag van een of ander god te trek. Vir die Jode was dit hulle voortdurende offers aan die God van die Ou Testament. Die Grieke en Romeine moes weer by elke geleentheid, waar hulle tot ‘n bepaalde god nader, van voor af offer, pleit en soebat. Vir ‘n Jesus-gelowige is daardie tyd verby, meen Paulus. Ons het nou vrye toegang tot die mees intieme verhouding met God. Jesus het ons toegangskaartjie betaal. Hy het alles klaar en finaal betaal. Daarom kan ons nou net ons hart en monde oopmaak en met God praat. Hy is ons Vader, nou en vir altyd.

  • Ons anker (v. 2b): Nie net gee die goeie nuus van Jesus vir ons vrye toegang nie, maar dit gee ook vir ons vastigheid, waarin ons ons lewens kan anker. Verhoudings is fundamenteel belangrik in die lewe. Diep verhoudings met belangrike mense, asook die mense naaste aan ons, bring vir ons ons vastigheid. Ons verhouding met God is egter die belangrikste verhouding. Dis juis hierdie verhouding met God in Jesus waaruit al die ander verhoudinge vloei. Dit anker ons: die feit dat die Skepper van die heelal ons lief het. Dit bepaal en beïnvloed ons selfvertroue, ons lewenshouding en die totale rigting van ons lewe. Paulus hanteer letterlik al die praktiese probleme in al die gemeentes aan wie hy skryf deur middel van hierdie historiese gebeurtenis: dat Jesus gekom het vir ons, vir ons gesterf het en dat Hy ons vrye toegang gee en ons lewens nuut maak. Hierdie realiteit is waarin ons vasstaan en waaruit ons leef.

  • Die hoop op God se heerlikheid (v. 2c): Vir Paulus en die antieke mens was hoop een van die belangrikste konsepte. Hoop het beteken dat iemand ‘n toekoms het, dat dinge nooit hopeloos is nie en dat wanhoop nooit ‘n opsie hoef te wees nie. Jesus gee vir Paulus hierdie hoop. Hy gee vir ons die ewige lewe en ‘n wete dat die geskiedenis iewers heen op pad is en dat sy eindbestemming goed is, onuitspreeklik goed. In Romeine 8:17 verduidelik Paulus vir ons dat hierdie heerlikheid van God insluit dat ons alles erf saam met Jesus! Hy (Jesus) is ons ouer Broer, wat alles erf van die Vader op grond van die kruisoffer wat Hy gebring het. Omdat ons egter in Jesus is (Romeine 8:1), erf ons alles wat Jesus s’n is saam met Hom!

  • Swaarkry kan betekenis kry (v. 3 - 7): Swaarkry is en was nooit God se plan met die wêreld nie. Alhoewel dit God se wil is dat ons lyding moet kan verdra, is swaarkry egter nooit onnodig nie. Dit beteken: ‘n lewe word nooit gemors, wanneer lyding opdaag nie. Wanneer swaarkry in geloof aanvaar en verdra word, dan word dit iets wat kan help om ons te vorm na Jesus se beeld. Swaarkry help ons om uit te hou. Wanneer ons dit regkry om uit te hou in moeilike omstandighede, dan bewys dit die egtheid van ons geloof, dit wil sê dat ons nie moed verloor met geloof nie, maar dit ernstig opneem. Op sy beurt voorsien hierdie uithou en oorwinning ons weer van hoop dat die Here met ons is en in ons werk. Hoop op die toekoms sal ons nooit teleurstel nie, omdat God self die toekoms in sy hand hou en omdat Jesus se dood en opstanding vir ons ‘n toekoms gekoop het.

  • Die bewys van God se liefde (v. 8): Het jy al ooit gewonder hoe jy ‘n bewys kan bekom dat God ons werklik lief het? In die Romeine-brief word dit redelik eenvoudig aangebied: Wie sal nou sy eie lewe gee aan iemand wat hom nog vyandiggesind is? Wel, dis presies Paulus se punt: God het! Hy het sy lewe gegee, terwyl ons nog ons vuis geskud het vir die hemel! God het Homself dus vir ons gegee, toe ons nog sy vyande was, nog lank voordat ons in die regte verhouding met God kon staan! Dis hoe ons weet God het ons onvoorwaardelik lief!

  • God is al wat ons benodig om ons bly te maak (v. 11): Die opsommende implikasies van al hierdie wonderlike dinge is wat vir Paulus sy lewensvreugde voorsien! Hierdie liefdevolle God, wat ons lief het en wat letterlik Homself vir ons gegee het, word nou ons vreugde! Wat ‘n genotvolle gedagte is dit nie dat God ons so geweldig lief het nie!

Oefening In verse 12 tot 21 vertel Paulus die storie van die mensdom in sy eie woorde oor. Hy gebruik die twee figure van Adam en Jesus om die lot van die mens, asook die nuwe moontlikheid van redding mee te beskryf. Lees verse 12 - 21 en beskryf hierdie paar verse in jou eie woorde. Oordenking In verse 12 - 21 beskryf Paulus die lot en redding van elke mens deur Adam te gebruik as ‘n tipiese voorbeeld en simbool vir alle mense. Dit wil sê dat die hele verhaal van die mensdom opgesom kan word in die lewe van Adam. Adam se verhaal word ons verhaal. Net soos wat Adam in sonde geval het in die tuin van Eden, is die hele mensdom in sonde gedompel. Ons maak droog, net soos Adam! Die lewe van elke mens buite Christus kan slegs met Adam se verhaal vergelyk word: Net soos Adam is almal die gevangenes van hulle eie sonde. Gelukkig het daar egter ‘n tweede Adam (Jesus!) gekom! Hierdie tweede Adam het al die skade, wat deur die eerste Adam aangerig is, in trurat kom plaas. Jesus se koms, sterwe en opstanding draai die dood, wat deur die eerste Adam voortgebring is, om in lewe vir diegene wat in Hom glo! Die hele mensdom kan dus ingedeel word in twee groepe:

  • Eerstens, diegene wie se lewens gedefinieer word deur die eerste Adam. Hierdie mense leef nog in sonde voort en ignoreer die moontlikheid tot vryspraak, wat deur die tweede Adam (Jesus) ingelei is.

  • Tweedens, kan enige iemand die tweede Adam se dood aan die kruis aanneem. Indien dit wel gebeur, ontvang so ‘n persoon die lewe en vryspraak van Jesus!

Watter Adam bepaal jou lewe en eindbestemming? GEBED: Ons God en Vader van ons Here Jesus, dankie vir die geweldige rykdom wat ons erf in Jesus! Help ons om te leef vanuit die Tweede Adam, Jesus, en die vryspraak wat Hy vir ons moontlik maak!


bottom of page