top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Episode 8 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oordenking Soos ons reeds op die video gesien het, werk die uitverkiesing van God op twee maniere: Dit is eerstens kollektief, dit wil sê groepsgeöriënteerd. Tweedens word ons deur God vir ‘n bepaalde doel uitgekies. Alhoewel sekere elemente van redding teenwoordig kan wees, is dit nie die hooffokus van die uitverkiesing nie. Die voorbeeld, wat Paulus gebruik om God se uitverkiesing mee te verduidelik, is die uitverkiesing van Israel. Hierdie en ander vrae, wat moontlik nou by Nuwe Testamentiese gelowiges kan opkom, word breedvoerig deur Paulus uiteengesit in Romeine 9 - 11. Dit is die doel van hierdie gedeelte.

  1. Omdat God die Skepper is, kan Hy kies wie Hy wil. Dit is Paulus se punt in 9: 10 - 29. Lees die paar verse gerus deur. God is geensins onregverdig nie. God is juis barmhartig deurdat Hy sommige mense wel vir ‘n bepaalde doel uitkies. Verder was Hy regdeur die geskiedenis ook geduldig en verdraagsaam teenoor alle sondaars en het Hy hulle voldoende kans gegee om deur sy genade tot bekering te kom (vgl. 2: 4).

  2. Lees gerus 10: 5 - 21. Dat die uitverkiesing nie primêr oor redding gaan nie, maar oor doel en funksie, kan ook in hierdie deel gesien word: Indien enige iemand met sy hart glo en met die mond bely dat Jesus die Here is, sal hy gered word (vv. 9 - 10). God se verlossing is vir elkeen wat glo. Elkeen, wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word (10: 13). Eintlik is die hele hoofstuk 10 die gom, wat hoofstukke 9 en 11 oor die uitverkiesing bymekaar bring en betekenis gee. Ons sien ook dat nie al die uitverkore Israeliete God se boodskap aanvaar het nie (10: 16).

  3. Israel het egter nou in Jesus ‘n nuwe bedeling beleef, deurdat nuwe gelowiges uit alle nasies by God se nuwe uitverkore volk bygevoeg word. Hierdie nuwe volk van God bestaan wel uit lede van die ou Israel, maar sluit ander mense vanuit heidense nasies ook in (9: 23 - 24). In 9: 30 - 33 sien ons dat die heidene nie God se vryspraak gesoek het nie, omdat hulle geen Wet gehad het wat hulle gewetens daarvoor sensitief gemaak het nie (sien ook 10: 20). Aan die ander kant het die Jode vryspraak gesoek. Sommiges het dit egter gemis, omdat hulle nie in God se reddingsplan geïnteresseerd was nie, maar eerder vryspraak deur hulle eie prestasies wou bekom. Daarom het hulle nie die kruis van Jesus aanvaar nie en so ook nie Jesus se vryspraak ontvang nie (10: 1 - 4).

  4. Israel se verharding en ongehoorsaamheid beteken beslis nie dat God hulle verwerp het nie (11: 11 - 24). God probeer hulle juis jaloers maak deur heidene soos ons in te sluit sodat hulle tot hulle sinne kan kom! Lees gerus 10: 19 en 11: 14 in hierdie verband. God is immers die God van die verbond. Hy trek nooit sy beloftes terug nie (11: 29) en Hy ontferm Homself uiteindelik oor almal, Jood sowel as nie-Jood (11: 32).

Oefening Nou rig Paulus hom tot die nuwe heidense (nie-Joodse) gelowiges. Paulus is skynbaar bewus daarvan dat daar van hierdie heidense gelowiges was, wat op Israel begin neersien het as gevolg van hulle (Israel se) ongeloof. Hulle het begin arrogant raak deur te dink dat Israel nou verwerp is en dat hulle (heidense gelowiges) nou Israel se plek volkome ingeneem het. Lees 11: 11 - 24 en skryf neer hoe Paulus hulle antwoord. Oordenking Lees 11: 33 - 36. Paulus sluit hierdie gedeelte af deur te erken dat ons hier voor ‘n Goddelike misterie en geheimenis te staan kom (vgl. ook 11: 25). Hierdie komplekse hoofstukke wil eintlik te kenne gee dat ons God nie verstaan nie. Sy denke en planne is bo ons verstand. Aan God kom dus al die eer toe en alle insig, wysheid en kennis behoort aan Hom en Hom alleen. GEBED: Here ons God, dankie dat U weë en denke hoër is as ons s’n! Dankie dat ons nie alles kan verstaan nie. Dit herinner ons daaraan dat slegs Ú alles weet. Dankie dat U wel in U wysheid en kennis besluit het om U te ontferm oor Jode sowel as nie-Jode. Dankie dat ons almal, wat in Jesus glo, ingeënt kan wees in die Olyfboom van Israel!


bottom of page