top of page
Writer's pictureMarietjie Joubert

Aandele en beleggings in die hemel


Lees Spreuke 19:17


Elke Vrydagaand het die behoeftige klein dogtertjie, Joan Kroc, en haar ouers vir die offisier van die Heilsleër gewag om vir hulle kos te bring. Haar mamma het altyd vir haar gesê: “Jesus is coming to visit.” Hierdie offisier het vir die Krocs hoop gebring deur Vrydae vir hulle ‘n kospakkie af te lewer. Jare later is Joan met die entrepreneur, wat die grootste kosketting in die wêreld, McDonalds, begin het, getroud. Met haar afsterwe het sy byna 2 miljard dollar aan die Heilsleër nagelaat. Sy het nooit die offisier, wat vir hulle gesin kos gebring het, vergeet nie.


As jy geld in die hemelse bank wil spaar, is dit wat jy moet doen! Jy moet Jesus wees vir die armes, die behoeftiges, die mense wat nie het nie, iemand in nood en mense wat jou nodig het. Wat ‘n wonderlike gedagte is dit nie. Ons dra so graag die armbandjie, ”What would Jesus do?” DIT is wat hy sou gedoen het.


Ons dink soms ons moet groot dinge doen! Nee, dit is meestal die klein goedjies, wat die grootste vreugde bring. As onderwyseres het ek so baie beleef wat ‘n ou drukkie vir ‘n kind kan beteken. Hulle gesiggies helder sommer op en die tieners begin sommer praat of huil. Slegte goed gebeur met ons almal. Mense verloor hulle werk, of is vasgevang in ‘n maalkolk van ongeluk. Baie gesinne het nie kos nie. Kinders kry daagliks kos by die skool en wil Vrydae nie huis toe gaan nie, want die hele naweek loop hulle met honger magies tot hulle weer Maandag ontbyt en middagete by die skool kry. Al hierdie voorbeelde is deel van ons land en sy mense. Ons het nie ‘n keuse nie. Dis ‘n Goddelike opdrag om na die armes en gebrokenes om te sien. ‘n Besoek by die ouetehuis kos niks. Al wat jy nodig het is ‘n warm hart en ‘n deernisvolle glimlag.


Baie mense sê hulle gee hulle bydrae by die kerk en dit sal veroorsaak dat die armes versorg is. Rol jy jou moue op vir die Here? Staan jy tyd af om armes te dien, of het jy elke keer ‘n verskoning daarvoor. Spreuke sê duidelik vir ons dat ons, ons oor hulle moet ontferm. Dit kan wees dat jy dalk net jou tyd moet afstaan aan iemand in nood. Dit is nie altyd die geld wat saak maak nie. Jou kosbare tyd is dalk vir iemand anders meer kosbaar as jy net by hulle sit en hulle hand vashou of vir hulle bid!


Jy kan ‘n behoeftige persoon met bitter min se lewe baie vinnig verander in ‘n skatryk persoon deur net ‘n bekertjie koue water te gee. Jy kan koeldrankies gee aan die manne, wat die vullisdromme verwyder! Jou ou bank in die woonkamer kan ‘n luukse item vir ‘n kinderhuis of jou huishulp word. Lugtyd vir ‘n selfoon kan jou tuinier se lewe verander, want dan kan hy sy gesin tuis skakel en hoor hoe dit met hulle gaan. Wanneer julle wegneemetes bestel, kan jy jou huishulp of tuinier ook bederf deur te vra wat hulle graag sou wou hê. Hierdie dinge breek niemand se bank nie.


Jy hoef nie 2 miljard dollar te skenk, soos Joan Kroc nie, maar jy kan iemand se lewe verander en verryk deur betrokke te raak. Dit gaan jou lewe vir altyd verander. Jy gaan stories hê om te vertel en jy gaan dalk meer daardeur geraak wees as die persoon wat jy help. Dít is wat die evangelie aan jou doen. Jy gaan verander en beleef hoe jou beleggings in die hemel groei.


Seën daarom vandag iemand met jou tyd, liefde, omgee of geld en beleef God se vreugde, wanneer jy Sy opdragte uitvoer.

Comments


bottom of page