top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

Alleenheid


Alleenheid. Loneliness. Dit is een van die oorsake én gevolge van baie van ons uitdagings vandag.

Alleenheid maak dat jy besig bly, sodat jy kan ervaar jy het ʼn konneksie met iets of iemand. ʼn Projek of ʼn kliënt, ʼn kuier of die volgende cappuccino. Eensaamheid kan ʼn kernkrag-masjien in jou binneste wees wat sy eie krag opwek. En dan vuur dit jou aan om buitentoe te kyk. Jy soek mense en ervarings op. Jy skep, raak kreatief, soek nog betekenisvolle oomblikke. Die lekkerte van spesiale oomblikke, is dat dit jou vir ʼn rukkie nie alleen laat voel nie. Jy ervaar iets saam met iemand. Of die projek kry ʼn lewe van sy eie en jy geniet dit.

Navorsing sê dat daar ʼn verband is tussen die hoeveelheid tyd wat ons op sosiale media spandeer en die intensiteit waarmee ons alleenheid ervaar.

En ewe skielik bevind ons onsself in ʼn situasie waarbinne sosiale media die enigste maniere is om kontak te behou. Na elke Zoom-gesprek, Facebook-kuier of Whatsapp-onderonsie, is dit jy en jou vier mure. Die projekte waaraan jy koorsagtig werk, verloor ook weldra hulle fut.

En meteens sit Alleenheid jou in die oë en kyk.

Vir drie weke het jy nie wegkomkans nie.

Dis eers dán wat jy sien dat Alleenheid se angel ook getrek is. Die monster in die donker het lank reeds self ook ʼn besoek gehad. Want toe Jesus se vriende Hom verlaat het, selfs sy boesemvriende, het daar nog ʼn oomblik voorgelê: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

In die ou dae is geglo dat pasgebore babas vir die eerste paar ure na hulle geboorte stoksielalleen in hulle stywe wit bedjies moet lê, sodat die ma kan rus. Hulle hele lewe lank het hulle Mamma se hartklop gehoor, was hulle omring deur haar self. En sonder waarskuwing word daardie direkte kontak onmiddellik verbreek.

Maar God praat anders hieroor met ons. God sê dat ons in Christus is. Daar is niks wat meer skeiding bring tussen ons en God nie (Rom. 5:1).

As isolasie ons help om vriende te maak met Alleenheid, kom ons dalk vryer anderkant uit. “Loneliness is painful; solitude is peaceful. Loneliness makes us cling to others in desperation; solitude allows us to respect others in their uniqueness and create community,” skryf Henri Nouwen.

So, nadat jy klaar gedink en gebid het oor jy wat in Christus is, en jou uniekheid voor God gevier het, tel gerus daardie foon op. Dink aan iemand wat dalk alleen voel. En maak kontak om te luister vir haar andersheid.

Saamwees is groter as vier mure.

Comments


bottom of page