top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

As ons vir Christus opkom


Dit is nou reeds ʼn paar weke na die polemiek rondom die Olimpiese Spele, die Laaste Avondmaal, Griekse mitologie en die uiteenlopende reaksies daarop en ek weet die onderwerp is holrug gery.Tog voel ek dat ek, noudat die gemoedere gaan lê het, ʼn stuiwer in die armbeurs moet gooi.


Dominees, pastore, doodgewone mense, ateïste, kunsgevoeliges, intellektuele persone en menige ander het veel te sê gehad oor die onderwerp, spesifiek oor Christene se reaksies daarop.

Dit het my laat dink aan ʼn voorval, wat hom ʼn paar jaar gelede in ons huis afgespeel het. As ek eerlik moet wees, voel ek effens bekommerd oor die reaksies, wat dit by diegene, wat iets van kinderopvoeding af weet, gaan uitlok. Die feit van die saak is dat sosiale netwerke dit baie maklik gemaak het om ander in die publieke domein te veroordeel en reg te help. Ek troos myself nou maar daaraan dat dit ʼn bykans onbegonne taak is om ʼn kind ordentlik groot te maak en dat ek as ouer op die ou einde meer foute maak as wat ek dinge reg hanteer.


ʼn Ontstoke ouer het my een aand gebel: “Ek dag net ek sê jou wat jou kind aangevang het. Dit is onaanvaarbaar en wat gaan julle daaraan doen?” Ek skrik my amper dood! Ons oudste seun, toe in graad 8 en nou reeds ʼn volwassene, het ʼn petisie teen ʼn onderwyseres opgestel, nadat sy een van sy klasmaats volgens hom onregverdig en onbillik behandel het. Hy het in die petisie gevra dat sy haar aksie sal heroorweeg en verduidelik dat die leerder ʼn voorbeeldige, hardwerkende kind is en nie hierdie tipe behandeling verdien nie.


Ons het hom Spur toe geneem, presies uitgevind wat gebeur het en hom gelukgewens dat hy bereid was om vir billikheid en geregtigheid op te staan. Hy het vandag steeds ʼn sterk sin vir hierdie twee belangrike konsepte. Ons het ook met hom gesels oor die moontlike gevolge van sy reaksie en dat hy dit in die vervolg liefs met ons moet bespreek, voordat hy so ʼn gewigtige saak aanpak. Bo alles het ons hom aangemoedig om nooit op te hou om op te staan vir dit waarin hy glo en vir diegene wat ingedoen en swak behandel word nie.


Na aanleiding van hierdie verhaal, deel ek graag enkele gedagtes rondom die reaksies op die reaksies op die opening van die Olimpiese Spele:


1.    As Christene kan ons doodeenvoudig nie nalaat om vir Jesus Christus en die bevordering van Sy aardse koninkryk op te kom nie. Dit is nie waar dat Hy nie ons stemme op aarde nodig het nie. Dink jou ʼn wêreld in waar Christene ophou om vreedsaam in opstand teen aanvalle op ons geliefde Here te kom. Jesus self het, nadat die Fariseërs in ʼn direkte aanval op Sy grootheid en Koninskap gevra het dat Hy Sy volgelinge moet stilmaak, gesê: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”


2.    As ons wel besluit om te reageer, moet ons dit met oorleg, liefde en in vrede doen. Dit is immers wat Christus ons geleer het. Simon Petrus moes sy swaard in sy skede terugplaas, nadat hy Jesus se eer en lewe op ʼn heethoofdige manier wou beskerm.


3.    ʼn Bekende, gerespekteerde predikant het ʼn groot, openbare debat op Facebook begin en sy insette afgesluit met ʼn finale aanval op die Christene, wat ongelukkig gevoel het oor die opening van die Spele: “My feelings hurt because the Olympics held in France portrayed a French painting about Greek Mythology and I'm too uneducated to know it had nothing to do with an Italian painting about Christianity.” Hierdie woorde het my ongemaklik laat voel. Geestelike, intellektuele en enige ander vorm van hoogmoed is laakbaar. Elkeen van ons het met pyn, naak, skreeuend, rooi, totaal oningelig, oortrek met vernix caseosa en in totale afhanklikheid van ander se versorging, liefde en goeie toekomstige geleenthede in die wêreld gekom. So gaan ons ook die wêreld verlaat. As die skelet van klere, vel, weefsel, organe en senings gestroop word, lyk ons almal dieselfde. Jesus Christus het immers eenvoudige mense as Sy dissipels gekies en met oortuiging verklaar dat die koninkryk juis vir mense, wat soos kindertjies glo, is. Die geleerde geestelike leiers van die tyd het met koppigheid en geestelike hoogmoed neergekyk op dié wat, volgens hulle, intellektueel “terug op die brug” was. Hierdie houding het in die pad van eenvoudige en opregte geloof in Christus gestaan.

Comments


bottom of page