top of page

Christus definieer ons lewe, nie ons probleme nie


Sommiges dink dit is God se voltydse werk om hulle deur al wat ’n storm is te kry. Dit voel altans so, as jy na baie plasings op sosiale media kyk. Of as jy luister na sommige gesprekke en preke luister, wat wemel van opmerkings oor al die storms, wat God namens ons aandurf … of al die reuse, wat Hy vir ons verslaan … of al die moeilikhede, wat Hy oplos. Dit voel kompleet asof vele hulle lewe slegs verstaan in terme van aanslae en moeilikhede en dat hulle God beskou as hulle voltydse persoonlike probleemuitsorteerder.


Voordat jy my verkeerd verstaan - God is ons Helper. Ons moet Hom aanroep in die dag van nood, soos wat Psalm 50 onder andere leer. Maar dit beteken nie die lewe is net een groot krisis nie. Of dat ons voltyds onder aanslag is nie. Ons mag nie ons lewe omraam in terme van die krisisse, wat ons soms moet deurworstel, of die moeilikhede, wat ons partykeer in die oog staar nie. Die Bybel leer ons dat ons identiteit orals en in Christus gesetel is. Hy is ons lewe, soos wat Paulus in Filippense 1 en Kolossense 3 skryf. Om dit te weet, is om genoeg oor ons lewe te weet. Dit is om te weet ons leef vír Christus en sáám met Christus. Hy definieer ons lewe. Ons hou ons oog op Jesus, nie op ons omstandighede of moeilikhede nie.

Comments


bottom of page