top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Daar hang nie ’n swaard bokant ons kop nie


Die legende van Demokles se swaard is stokoud. Cicero (106-43 v.C.) en baie ander skrywers het al hierna verwys. Dit vertel die verhaal van koning Dionisius II, wat aangebied het om vir een dag plekke te ruil met sy hofdienaar Demokles. Dit het gebeur nadat Demokles vir hom gesê het dit moet darem lekker wees om soveel mag en rykdom te geniet. Maar daar was een vangplek. Koning Dionisius het ’n skerp swaard bokant Demokles se kop laat hang. Dit was vasgemaak aan ’n haar van ’n perd se stert. As daardie haar sou breek, sou die swaard vir Demokles deurboor. Demokles het toe op die koning se troon gaan sit, omring deur al sy luukshede. Maar voordat die dag verby was, het Demokles besluit om die troon terug te gee.


Cicero sê hierdie verhaal leer vir ons rykdom en mag is nie alles nie. Nogtans glo vele mense geluk is sinoniem hiermee. Jesus verskil drasties hiervan. In Matteus 5 leer Hy ons van ander skatte wat ewige dividende oplewer. Hierdie skatte is te vind in God se skatkamer. In hierdie skatkamer hang geen swaard bokant ons kop nie. Jesus het dit weggevat toe Hyself aan die kruis gehang het. Nou deel Hy hierdie skatte in oorvloed met al God se kinders. Hy gee oorgenoeg genade, lewe, wysheid, medelye en daaglikse brood aan ons elkeen. O ja, hierdie skatkamer is terselfdertyd ook ’n voorraadkamer wat nooit leeg raak nie. Hier is te veel hemelse skatte vir onsself om ooit op te gebruik. Daarom kan ons dit deel met ander. Ons kan vrygewig leef, want ons kan in ewigheid nooit God se skatte opgebruik nie.

Comments


bottom of page