top of page

Die Gees is daar waar Sy Boek gelees word


Lees Psalm 1:2

 

Ons moet die Gees toelaat om ons lewe na Sy eie goeddunke in te rig. Ons hoef nie bekommerd te wees dat Hy ons lewenshuis in hierdie proses in een of ander vervelige ou geboutjie sal omskep nie. Nee, die Heilige Gees spesialiseer net in die allerbeste. Hy bou lewende tempels, wat met God se heilige teenwoordigheid gevul word, soos wat ons vantevore al gesien het. In hierdie verband speel die Bybel ‘n baie groot rol. Dit is immers die swaard van die Heilige Gees. Die Gees werk altyd in en deur die Woord. Hy bring nie nuwe, losstaande openbarings buite die Bybel na ons toe nie. In die Bybel is God se wil genoegsaam aan ons bekendgemaak. Ons het niks meer as hierdie Boek der boeke nodig om iets oor God te wete te kom nie. 

 

Die Heilige Gees se werk is nodig om die Bybel regtig te verstaan, want dis immers Sy boek. Hy het dit geïnspireer en op skrif laat kom. Hy is elke keer aanwesig waar dit in opregtheid gelees word. Tog staan die leiding van die Gees nooit teenoor studie van die Bybel nie. Dis immers in die eerste plek vir mense van ‘n ander taal en kultuur as onsself geskryf. En dis soms ingewikkeld. Daarom verg dit harde werk en studie om die Bybel verantwoordelik uit te lê. Doen dit en proe die goeie vrugte.

 

Gebed:

Maak my ‘n ywerige student van U Woord, heilige God. In Jesus se Naam. Amen.

Comments


bottom of page