top of page

Die hoogste prioriteit vir ‘n leier!


“Ag nee, ek het vir Billy Graham verloor!” So skree die sekuriteitswag benoud, toe hy agterkom dat die bekende Billy Graham nie meer naby hom staan nie. In ‘n nuwe boek oor leierskap deur Skoog, Greer en Doolittle word daar vertel hoe Graham vir vyftien minute met ‘n klein groepie geestelike en besigheidsleiers moes praat. Die sekuriteitswag moes hom oppas en nou’s Graham weg! Gelukkig vind die wag hom ‘n paar minute later. Graham lê met sy gesig op die vloer lê en pleit: “Here God, ek kan hierdie nie sonder U doen nie! Ek het U krag en sterkte nodig om vandag te kan praat!” So bid Billy Graham, iemand, wat al voor derduisende mense gepraat het en wat presidente en eerste ministers gementor het, ‘n paar minute voor sy kwartier toesprakie!


Vandag dink baie Christenleiers dat hulle hul werk sonder God kan doen?! Een studie, wat wêreldwyd gedoen is, dui daarop dat slegs sestien persent van predikante met hulle eie gebedslewens tevrede is! In ‘n ander studie is ontdek dat twee en sewentig persent van alle predikante volgehoue en konsekwente gebed aandui as een van die areas, wat nog baie aandag nodig het! In hulle boek getiteld Lead with Prayer, toon Skoog, Greer en Doolittle aan dat gebed nie net belangrik vir predikante behoort te wees nie, maar vir enige Christenleier, wat aan die stuur van ‘n organisasie staan. Hulle studie dui verder aan dat in organisasies, waar leiers gebed prioritiseer,


  • 91% van die werknemers meer belyn voel met die doelwitte van die organisasie

  • 85% glo dat God aan die werk is in die organisasie en dat God ook Sy doel, ten minste gedeeltelik, deur die organisasie vervul

  • 78% aandui dat hulle minder stres met betrekking tot hulle dag-tot-dag-verantwoordelikhede beleef

  • 70% rapporteer dat hulle produksie verhoog het.


Christenleiers, wat besighede lei, en leiers in posisies van geestelike outoriteit se lewens behoort deur volgehoue gebed gekenmerk te word. As Billy Graham dit nodig gehad het, sal ons dit beslis nodig hê. Trouens, as Jesus dit nodig gehad het, sal ons, ons gemeentes en ons organisasies dit beslis broodnodig hê. Jesus self het dan gesê:


“Sonder My kan julle niks doen nie.”

Comments


bottom of page