top of page

Die nie-angstigheid van goeie leiers


Die konteks van leierskap bepaal altyd die soort leierskap wat benodig word. Dit bepaal watter eienskappe binne-in in ‘n sekere makrokultuur in ‘n situasie benodig word. Dit bepaal watter gereedskap in die mondering van effektiewe leiers nodig is. In hierdie opsig is die tyd, waarin ons leef, uniek. Ons wêreld is vinnig aan die verander en hierdie verandering vra vir ‘n eiesoortige leierskap. Die kulturele kommentator, Mark Sayers, sê die volgende in verband met ons huidige post-COVID samelewing:


“Society has moved into a grey zone. Grey zones exist in the overlap of two eras. They contain the influence of both the passing and forming era; this makes grey zones confusing and contradictory… The world is undergoing transformation … a chaotic period where most anything can happen and little can be predicted; where yesterday’s rule takers become tomorrow’s rule makers, but no one follows rules anymore; where competing global visions collide with each other; where remnants of the past, present and future coexist simultaneously ... we are moving into our in between moment, in which the usual rules do not apply. The markers and measurements that we use to find a sense of place and direction, do not operate in this phase. This creates anxiety.”


Hierdie tusseninfase, waarvan Sayers praat, is ‘n meer digitaal connected fase as ooit tevore in die geskiedenis. Maar hierdie konneksies met mekaar, wêreldwyd, veroorsaak dat al hoe meer mense kennis neem van ander se standpunte en dus meer met mekaar verskil. Dit bring ‘n desentralisering van opinies na vore sodat uiteenlopende netwerke van groepe, stamme en tribes ontwikkel, wat in konflik met mekaar is. Groot korporatiewe liggame en regerings voorsien nie meer vir ons die konsensus in politieke sieninge, morele waardes en opinies nie. Samelewings is verdeeld en gepolariseerd. Ons leef nie meer in ‘n wêreld van eenheid nie, maar binne-in ‘n gefragmenteerde realiteit. Ons het beweeg van konsensus na konflik. Dis nie noodwendig reg of verkeerd nie. Dis net hoe dit is. Dit lei egter tot meer angs. Hierdie angstigheid kry gestalte in die sosiale struktuur van die samelewing, die ekonomie, verhoudings, akademiese en intellektuele industrieë, politieke arena, die kerk en besigheidsektor.


Wat leiers egter moet verstaan, is dat dinge vandag meer sistemies as ooit tevore is. Dinge gebeur asof in ‘n sosiale sisteem. Wat ook al in die kultuur gebeur, gebeur op ‘n massiewe skaal. Dinge soos angs gaan viral. Dis asof die elke individu, wat deel is van die massas, deur tropkoors getref word, waar ‘n instink, wat lei tot goeie gevoelens, eerder nagevolg word as ‘n oplossing. Daar vorm dus as’t ware ‘n tropinstink téén redelikheid en nugter probleemoplossing.


Geestelike leiers of Christen-leiers in organisasies en gemeentes kan ‘n groot rol daarin speel om hulle mense na Godgegewe rustigheid en kalmte te lei. Waar leiers gewoonlik hulle invloed deur middel van hulle gedrewenheid, kreatiwiteit, charisma, opleiding of kommunikasievaardighede uitoefen, sal dit nie die deurslaggewende faktor in die toekomstige angstige omgewings wees nie.


Van hier af, vir die volgende ruk, sal leiers hulle invloed slegs kan uitoefen deur, wat Sayers noem ‘n non-anxious presence. Geestelike leiers sal invloed verkry deur die vrede, die kalmte, en die shalom van Jesus tussen mense te leef. Om kalm teenwoordig te wees, tussen die mense te wees. Mense gaan leiers volg wat hulle lei na waters waar daar rus is. Om met stil, redelike Geesgegewe kalmte leiding te gee en konflik vredevol te reguleer, gaan die deurslag gee. Gedrewe leiers moet dus toesien dat hulle gedrewenheid die mense voorsien van doel en betekenis en nie angs tot gevolg hê nie. Sommige leiers kan so hard en mensonvriendelik dryf dat hulle angs by mense wek eerder as God-gegewe passie.


Hierdie nie-angstige teenwoordigheid binne-in ‘n emosioneel ongesonde sisteem, dien as die immuunstelsel van die sisteem  of organisasie. Soos die witbloedselle van ‘n liggaam teen infeksie veg, kan dit ‘n sisteem of organisasie na gesondheid terugbring. Net soos wat angs in ‘n sisteem kan vermenigvuldig, kan nie-angstige teenwoordigheid die sisteem herstel.


Hierdie is egter iets wat leiers nie sal kan fake nie. Hulle sal moet seker maak dat hulle self die Herder volg wat hulle na stil waters lei en nie hulle eie angs op hulle mense projekteer nie.


Jesus het immers gesê: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle.”

Comentarios


bottom of page