top of page

Dink terug aan God se goedheid en getrouheid


"Remember the things I have done in the past." Isaiah 46:9

Wanneer dit sleg gaan vergeet ek so maklik die onverwagte seëninge, die waardevolle lesse wat ek uit moeilike tye geleer het. Ek vergeet van al die kere wat my gebede verhoor is, of die spesiale oomblikke waar ek God se unieke liefde ervaar het. Dis nie vreemd dat ek dan kleingelowig en moedeloos raak nie. Toe die Israeliete deur die Jordaan getrek het, het God hulle opdrag gegee om ‘n fisiese teken, ‘n klipstapel, op te rig. Dit moes hulle, in die jare wat kom, aan die Here se goedheid en getrouheid herinner (Josua 4:4-7) Hy het geweet dat hulle gou Sy wonderwerke sou vergeet.


Daarom is dit nodig dat ek ook, soos hulle, weer herinner word en sal terugdink aan Sy getrouheid en Sy liefdevolle teenwoordigheid vandag en in die verlede. “Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk, en oor al u dade peins (Psalm 77:12,13)


‘n Vriendin, wat onlangs afgetree het nadat sy vir jare ‘n tehuis vir gestremdes gehad het, vertel van die talle gebedsverhorings gedurende die bestuur van die tehuis. Haar gesig helder op wanneer sy aan die Here se goedheid en voorsiening terugdink, hoe die Here telkens op wonderbaarlike wyse in al hul behoeftes voorsien het.


My eie gebedsjoernaal is so ‘n versameling van gebede en gebedsverhorings: ek kan daardeur terugblaai en onthou van al die kere wat ek in afhanklikheid geliefdes voor die Here gebring het. Dit herinner my dan aan God se liefdevolle teenwoordigheid in hierdie moeilike tye en hoeveel van my gebede beantwoord is.  Dit bevestig net weer dat God my gebede hoor en verhoor.


Aan die begin van ‘n nuwe jaar, met Kersfees agter die rug, uitgerus na die vakansie en met nuwejaarsvoornemens in tou, kyk ons vorentoe na wat die jaar inhou. Wat ook al die jaar inhou, ons kan verseker wees dat dit bittersoet sal wees.  Dit is daarom goed om stil te staan en terug te dink aan die jaar wat verby is, te reflekteer en te onthou hoe God ons bygestaan en gedra het. Wat ek uit die verlede onthou, verander hoe ek oor vandag en oor die toekoms voel. Om God se goedheid te onthou, maak dat ek eerder hoopvol sal wees as om in vrees te leef  


My vrese, angs en onsekerheid oor my huidige omstandighede en ook oor die toekoms, begin vervaag wanneer ek nadink en herinner word aan God se getrouheid.


Ek kan ook nou, soos in die verlede, weer op Hom vertrou.

Comments


bottom of page