top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Dit hou net nie op nie


Lees Galasiërs 5:20

 

Sonde groei graag so vinnig soos onkruid. Kyk net die hele rits sondige gedrag, wat Paulus hier in vers 19-21 opnoem. Dit groei! Dit spoel soos ‘n golf oor alles en almal, wat in die greep van ‘n sonde vasgevang is. Dit lewer mense uit aan die slegste moontlike dinge, wat diep in hul sondige geaardheid weggepak is. Hulle wil nou vry wees om self oor hulle lewens te besluit. Hulle wil doen wat hulle wil, sê wat hulle wil en dink wat hulle wil. Helaas is hierdie vryheid ’n illusie, ’n nagmerrie. Vandat sonde die wêreld getref het, is niemand regtig vry nie. Mense is lewenslange slawe van die sonde. Daar is net een oplossing vir mense se verslaafdheid aan die mag van die sonde. Sy Naam? Jesus Christus, natuurlik! Jesus sê daarom in Johannes 8:36 sê dat slegs wanneer Hy ons vry maak, dan is ons werklik vry.

 

Die Heilige Gees breek alle sondebande in Sy kinders se lewens. Hy sny ons ou, sondige natuur weg en maak ons nuut. Ons, wat in Jesus as ons Heer glo, deel in Sy magtige oorwinning oor die Bose. Trouens, volgens Paulus se woorde in Romeine 8:37 is ons superoorwinnaars. Letterlik niks kan ons nou meer van God se liefde skei nie, nie eens die duiwel en sy trawante nie. Ons lewenshuis staan nou onder volle bestuur van die Gees.

 

Gebed:

Dankie Here dat daar by U egte vryheid is. Amen.

Comments


bottom of page