top of page
Writer's pictureHelena Smith

Dit is soms goed om alleen te wees


Ek het werklik vir eensame mense begrip. Ek dink dit moet erg wees om verlate te voel en te voel dat almal van jou vergeet het. Miskien is jy nie regtig eensaam nie, maar dit voel vir jou asof jy effens geïsoleerd is.   

 

Ek is ‘n ekstrovert en hou van mense rondom my, maar ek bevind my nou in ‘n stiller seisoen. Ek het onlangs na ‘n lang onderwysloopbaan opgehou skoolhou en werk nou in ‘n stil kantoor. Alhoewel ek die stilte en vrede geniet, waarin ek my werk kan doen, mis ek die kuier saam met my kollegas. My man is baie uithuisig en omdat ek nie meer skoolwerk het om tuis te doen nie, voel dit soms asof ek ‘n bietjie geïsoleerd is. 

 

Toe ek myself eendag jammer kry, luister ek na ‘n boodskap met die titel “The beauty of being set apart”. Dit handel daaroor dat ‘n mens soms vir ‘n rede alleen of geïsoleerd is.  In God se meesterplan het Hy ‘n doel waarom jy alleen is.  Ek weet dat ek voorheen so besig was dat ek nie kwaliteit stiltetye kon hou nie. Nou het ek baie tyd om te lees, te bid en te luister. Die Here wou hê ek moes ‘n stiller seisoen beleef sodat ek Hom beter kan leer ken.

 

In Eksodus 34 lees ons dat Moses 40 dae op die berg Sinai in God se teenwoordigheid deurgebring het en dat die Here toe vir Hom die 10 gebooie gegee het. In Eksodus 34:29 en 30 lees ons die volgende: “Moses het van die Sinaiberg afgeklim met die twee plat klippe, waarop die bepalings van die Verbond geskryf was in sy hande. Toe hy afklim, het hy nie geweet dat sy gesig blink, omdat God met hom gepraat het nie. Aäron en die Israeliete het gesien hoe sy gesig blink en was bang om naby hom te kom.”

 

In die Bybel lees ons van nog persone, wat in isolasietye versterk is. Josef was geïsoleer van sy gesin en is selfs in die tronk gegooi. Die Here het egter hierdie tyd gebruik om vir Josef vir sy groot taak voor te berei.

 

Soms het jy meer alleentyd saam met die Here nodig. Hy wil jou innerlike só verander dat dit ook in jou uiterlike sigbaar is. Isolasie het ‘n doel. Dit berei jou voor vir iets groters. Onthou net dat jy nie alleen is nie - die alomteenwoordige God is by jou. Lees Sy Woord en praat met Hom. Gaan leef dan dit wat God vir jou sê. Wees lief en goed vir ander en lewe met integriteit en geregtigheid. Mag ander God se teenwoordigheid in jou lewe sien, omdat jou gesig “blink”.

1 Comment


Dankie vir hierdie boodskap.

Like
bottom of page