top of page

Doen dit met eerbied


Lees Psalm 119:105

 

Die Gees gebruik die Bybel om met ons te praat. Sonder Hom kan ons nooit die boodskap van die Bybel behoorlik verstaan nie. Wanneer die Heilige Gees die skille van ons oë afhaal, word die Bybel regtig eers lewend. Dan hoor ‘n mens die stem van God op elke bladsy. Die Heilige Gees werk egter nie op ’n magiese manier deur die Bybel nie. Om God se wil te leer ken, verg tyd en studie, soos wat ons gister reeds gesien het.

 

Ons moet die Woord en woorde van die Here dag en nag oordink, soos wat Psalm 119 sê. Ons moet ’n goeie Bybelstudiegids aanskaf en bly lees en bid totdat die Bybel vir ons oopgaan. Te veel mense soek kortpaadjies, wanneer hulle met die Bybel besig is. Hulle gryp vinnig ‘n paar versies, wat hulle hartsnare roer en maak dan ‘n groot geestelike bohaai daaroor. Hulle gebruik boonop vroom uitdrukkings, soos dat hulle Skrif gekry het, maar dikwels word daardie einste Bybelverse misverstaan en misbruik om agter hulle eie opinies aan buik te spreek. Hoor hier, dis ‘n sonde om die Bybel tot jou eie voordeel te misbruik. Dit blus die Gees se kragtige werk. Dit maak Sy vlymskerp swaard stomp. Sorg daarom dat jy groot eerbied vir die regte uitleg van die Woord het deur dit versigtig en met die nodige eerbied te lees en te bestudeer.

 

Gebed:

Plaas asseblief ‘n groot dosis eerbied in my eie hart teenoor U Woord, liewe Heer. Amen.

Comentários


bottom of page