top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Doen partykeer niks nie


“Doen net iets!” Jy hoor dit gereeld. Om niks te doen nie, is vir baie mense sinoniem met lui wees. Of met die ontduiking van verantwoordelikhede. Nogtans is niksdoen partykeer die regte opsie. Partykeer moet jy eers die kat uit die boom kyk, voordat jy enigiets doen. Jou dade het dikwels onvoorsiene gevolge. Soms draai goedbedoelde dade sleg uit. Hoe lui daardie Engelse gesegde nou weer: “No good deed goes unpunished.”


Soms probeer jy iemand troos wat treur, net om te hoor jy verstaan nie waardeur hulle gaan nie. Of jy help iemand, wat swaarkry, net om te verneem jy dink jy is beter as hulle. Of jy probeer vrede maak tussen strydende familielede, net om te beleef jy is inmengerig. Daarom is dit partykeer beter om niks te doen nie. Jy hoef regtig nie almal te “fix” nie. Jy hoef ook nie die antwoord op elke probleem of krisis te wees nie. Staan ’n slag net uit die pad. Vertrou die Here om in mense te werk. Gee aan Hom genoeg tyd en ruimte om te doen wat net Hy kan doen. Gee ook vir mense tyd en spasie. Dan doen jy op die regte manier niks.

Comentarios


bottom of page