top of page

Doen reg, dan hoef jy nie beloftes te maak nie


Belofte maak skuld. So lui die ou spreekwoord. Met ander woorde, jy moet jou woord hou. Jy moet doen wat jy beloof het om te doen. Die meeste van ons het egter al ’n belofte of twee gemaak, wat ons nie nagekom het nie. Ook teenoor die Here het ons dalk al ’n klompie oorhaastige beloftes gemaak. In Matteus 21:28-32 vertel Jesus juis in een van Sy gelykenisse van ’n seun, wat presies dit gedoen het. Hy het vinnig ja gesê toe sy pa vir hom vra om in sy landerye te gaan werk. Maar toe hou hy nie sy woord nie. Hy is loshande die oorspronklike jabroer! Hy het ja gesê en nee gedoen.


Jesus vertel ook hier van die ander broer. Hy is die oorspronklike neebroer. Hy het aanvanklik nee gesê, toe sy pa ook vir hom gevra het om in die landerye te gaan werk. Later het hy egter sleg gevoel. Toe gaan werk hy in sy pa se landerye. Jesus pas dan hierdie gelykenis van die jabroer toe op dooie godsdienstiges. Hulle maak altyd die regte godsdienstige geluide en beloftes, maar hulle doen nie regtig wat God vra nie. Hulle beloof hulleself in groot moeilikheid in by Hom. Moenie dieselfde doen nie. Doen sommer net van die begin af wat God vra. Dan hoef jy nie beloftes aan Hom te maak nie. Jou dade wys in elk geval jou integriteit voor God, nie jou leë woorde nie.

Comentarios


bottom of page