top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Gaan pleit by God


Lees Efesiërs 5:21a

 

Die Heilige Gees het ons kom vrymaak van alle magte en van bindinge aan die sonde. ’n Baie belangrike deel van Sy daaglikse bouprogram in ons lewens is om ons bewus te maak van die aard van ons nuwe vryheid. Hy gee aan ons ‘n splinternuwe identiteit. Dit doen Hy in teenstelling met die sondige leefstyl van afguns, dronkenskap, afgodery en wie weet watter sondes nog, wat miljoene mense se lewens regoor die aarde kenmerk. As laasgenoemde dinge vryheid is, dan weet ek nie. Om erger as diere te leef, is mos slawerny! Dis om uitgelewer te wees aan alles wat destruktief en sleg is. Dis om ‘n gevangene te wees van boosheid. Hoe op dees aarde mense vrywillig vir so ‘n manier van leef kan kies, moet jou eintlik net dronkslaan. Dit moet jou in gebed laat neerslaan om dag en nag vir diesulkes in te tree.

 

In plaas daarvan dat ons net ons koppe meewarig skud oor al die sondes, wat hoogty vier in ons dag, moet ons in nederigheid voor God vir hulle pleit. Ons moet Sy genadetroon opsoek en om hulp smeek. Ons moet bid en klop en pleit dat Hy deur Sy Gees op nuwe maniere in sondeverslaafdes se lewens sal ingryp. Ons moet roep om hulp en bystand van die kant van die Here, anders gaan boosheid toeneem, hand oor hand!

 

Gebed:

Here, wees ons almal genadig. Keer die toename in boosheid rondom ons. Amen.

Comments


bottom of page