top of page
Writer's pictureMarietjie Joubert

Geloof Hoop en Liefde


Lees Johannes 1


Wat is geloof?


Geloof is die vaste wete en vertroue dat Jesus deel is van die Drie-eenheid; dat Hy gesterf het vir ons sondes en dat Hy na die hemel opgevaar het! Hier het HY vir ons ‘n plek gaan voorberei, waar ons vir ewig gaan woon wanneer ons te sterwe kom.


Maar die Bybel leer ons dat Jesus het ons nie alleen hier gelos nie. Hy stuur die Heilige Gees om elke oomblik by ons te wees. Die Heilige Gees woon in ons harte en gee elke dag vir ons leiding oor hoe ons moet lewe. Hy herinner of waarsku ons oor dinge wat verkeerd is, voordat ons dit doen. As ons naby aan Hom leef, sal ons bewus van Sy stem wees, wanneer Hy met ons praat. Ons sal Sy leiding vra wanneer ons iets moet doen. Dan leef ons volgens Sy wil, wat Hy vir ons voorhou.


‘n Mens moet elke dag vanuit jou geloof lewe. Lewe soos die Here van ons verwag. Ons moet lewe asof vandag ons laaste dag is. Geloof gee aan jou die energie, die blydskap en die vreugde om te leef.

Paulus het geglo dat die lidmaatskap van gelowiges, mense onwrikbaar verander en dat hulle dan daarvolgens lewe. Omdat Christus deel is van jou lewe en jy glo, is jy dood vir die sonde en lewe jy vir God. Dit verander jou eie lewensstyl vir altyd.


Hoop


Menslike hoop verskil van dié van ‘n gelowige. As ‘n student hoop ek ek kom die eksamen deur. Ek hoop ons het genoeg geld om ‘n nuwe motor te koop. Ek hoop ek kry ‘n wonderlike man, wat vir my lief is en mooi vir my gaan sorg. Ek hoop ek sal hier in die versorgingseenheid gelukkig wees. Dis sommer net aardse hoop. As ‘n kind van die Here is my hoop in Christus heeltemal anders.


Die Christus-evangelie is vir gelowiges iets wat al ons begeertes bewaarheid. Die evangelie is ook histories waar. Die Christelike hoop is om die ewige lewe te ervaar en te betree. Wat ‘n hoop is dit nie! Hierdie hoop sal ons vir ewig laat lewe. Ons sal tot in die diepste ewigheid by God wees. Dit is die hoogtepunt van ons Christelike bestaan hier op aarde, wat eindig in die ewige lewe.


Vir ‘n Christen is hoop die genade van verlossing. Hoop behoort nie aan goeie mense nie, maar aan mense, wat kan erken hulle is nie goed genoeg nie, want hulle doen sonde. Hulle weet volkome dat God hulle Verlosser is.


Hoe weet ons dat ons die ewigheid saam met God sal deurbring? Jesus het opgestaan uit die dood en sit nou aan die regterhand van God.


Lees Rom 5: 6-9.


Hier verseker Paulus ons dat Jesus vir ons gesterf het, toe ons nog sondaars was en dat ons deur Hom gered sal word. Ons sal deur Jesus van die straf van God gered word.


In Lukas 23:43 sê Jesus vir die man aan die kruis: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.” Daar, aan die kruis, red Jesus hierdie wrede moordenaar! Hier, aan die kruis, het die man hoop gehad dat hy gered kan word en hy het gevra: “DINK AAN MY VANDAG!” En Jesus het. Daardie dag was hy in die hemel saam met Christus. Dít is Christelike hoop. Dit maak nie saak wat ek gedoen het nie, as ek Jesus se naam aanroep en glo, sal ek gered word!


Liefde


Gedurende die Paastyd word God se liefde deur Jesus die beste gesien. Jesus sterf vir ons sondes aan die kruis! Hy offer Sy lewe vir ons op! Dit is die grootste denkbare bewys van liefde. Hy leer ons eerstehands deur Sy voorbeeld wat liefde is.


Daar is sulke wonderlike getuienisse van mense, wat dié liefde geleef het, waaruit ons kan leer.


Maria Skobtsova, ook bekend as die Moeder Maria van Parys, het haar oor Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog ontferm. Sy het vir die Jode opgestaan en gesê Christene moet ook die geel Dawidster dra. Sy is uiteindelik na die Ravensbruk-konsentrasiekamp gestuur. Hier het sy ‘n jong dogter se geel ster van haar rok afgehaal en dit aan haar eie klere vasgesteek. Sy het in die gaskamers in die plek van die jong Joodse dame gesterf. Haar liefde vir haar medemens het haar haar lewe gekos. Wat ‘n voorbeeld is sy nie vir ons nie.


Vader Damien van Molokai het in Leuven in België gestudeer. Sy broer is deur die kerk na die Sandwich-eilande in Hawaii gestuur, om na melaatse mense te gaan omsien. Hy moes belowe dat hy nie aan die mense sal vat nie en vêr van hulle af sou staan. Hy kon dit net nie oor sy hart kry nie. Hy het die ou kapelletjie op die eiland reggemaak en na die mense se fisiese en geestelike behoeftes begin omsien. Hy het hulle versorg. Hy het ‘n kinderhuis vir die agtergeblewe kinders begin en hulle ook versorg. Van die 16 jaar, wat hy op die eiland gebly het, het hy net vir 6 jaar hulp van ander priesters ontvang. Hulle wou nie daar bly nie, want dit was te gevaarlik en hulle kon melaatsheid kry. Vader Damien het gebly - dit was sy lewenstaak om aan hierdie klein groepie mense versorging en liefde te verskaf. Hy het sy lewe vir hierdie arme verwronge verwerpte mense gegee. Hy is later self dood aan melaatsheid. België het hom aan die einde van die millennium aangewys as die Man van die Eeu. Hulle het eer gebring aan ‘n man wat in die plek van sy broer gaan sendingwerk doen het, omdat hy te siek was om te gaan. Hy het toe ook sy eie lewe in die versorging van melaatses opgeoffer.


Jesus dop jou om. Jy kan nie meer sê die Here het my so gemaak en so gelaat staan nie. As jy die Here se liefde leef, moet jy verander. Dan kan jy nie meer die grompot van die gemeente of die plaaslike koerant in die ouetehuis wees nie. Dan vertel jy verhale van hoop en liefde. Jy loop nie en gesels oor ander se verleenthede of swaarkry nie. Liefde VERANDER jou waarlik. Jy sluk jou tong in as jy wil kla of skinder en loop die liefdesroete.


Gebruik die Paastyd om weer die roete van geloof te herontdek, hoop te hê vir ons vir die toekoms van ons wonderlike land en Jesus se gewillige helpende hande en voete vir ander mense te wees. Gaan wees Jesus vir ander. Hy het gesterf vir ons sondes. Eer Hom deur ander meer in hierdie lydingstyd van ons kalender te dien.


Lees ook 1 Korintiërs 13.


Comments


bottom of page