top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Gemak kan Jesus-volgelinge ruïneer


Een van die interessantste flieks, wat die implikasies van Kunsmatige Intelligensie goed illustreer, is die prent, Wifelike. Die storie speel in die toekoms af, waar mense met robotte kan trou. Die hoofkarakter se vrou is egter oorlede en omdat hy baie lief vir haar was, het hy ‘n robot laat vervaardig wat presies soos sy oorlede vrou gelyk het. Ek gaan nie die kompleksiteit van morele vraagstukke oor kunsmatige intelligensie hier bespreek nie. Wat my egter opgeval het, was hoe die robotvervaardigingsmaatskappy hulle dienste adverteer het. Op een advertensieskerm het dié woorde geflits:


Update you wife - Upgrade your life.


So baie dinge in ons samelewing bring ons in die versoeking om dinge, wat minder eg, meer plastiek, meer nagemaak, meer kunsmatig, meer oppervlakkig en fake is, na te jaag.


Natuurlik is nie alle tegnologie sleg, of alle besluite om die mees moderne tegnologiese produk aan te skaf, verkeerd nie. In ‘n digitale wêreld moet ons inderdaad updates doen en moet ons ons sagteware opgradeer, anders sal ons nie in die samelewing kan funksioneer nie. Ons moet onthou dat tegnologie ook maar bloot die produk van die mens se woekerende interaksie met sy omgewing is. Daar is nie noodwendig iets mee verkeerd nie. Daarom moet gemeentes en Christenleiers dink oor hoe Kunsmatige Intelligensie gebruik kan word.


Soos met die meeste dinge is daar egter wel iets waarop ons moet let. As Jesus-volgelinge moet ons nie altyd besluite ter wille van gemak neem nie. Die transformasie-afrigter, Bill Eckström, het gesê:

If growth is your goal, comfort will ruin your life.


Om te groei as ‘n Jesus-volgeling, verg moeite en hope ongemak! Om lief te hê en ‘n verhoudingspad met mense te stap, neem uiters baie inspanning. Om oor kleurgrense heen by jou geestelike familie in informele nedersettings te gaan kuier, verbrand ‘n bietjie meer brandstof en kan sweet en inspanning kos. Om na die armes om te sien, is nie altyd maklik nie. Om gereeld Bybel te lees en ongewone belangstelling en energie in te sit om dit te verstaan, verg ekstra energie. Om ‘n lewende verhouding met God te kweek, verg soms baie. Wanneer ons egter die hele tyd keuses maak wat vir ons orde, veiligheid en gemak skep, hoe gaan ons die wêreld kan liefhê? Hoe gaan ons ooit ons verhouding met God eg kan beleef?


Dankie tog dat Jesus nie gemak gekies het toe Hy op pad na die kruis was nie!


Waar sou ons dan gewees het?

Comments


bottom of page