top of page

Genade is nie karma nie


Taylor Swift is wêreldberoemd. Iewers sing sy: “Karma is a god.” Sy sing ook dit is haar “boyfriend … that’s coming back around.” Binne verskillende godsdienste en filosofieë veronderstel karma dat alle aksies ooreenstemmende gevolge het. Anders gestel, alles wat mense doen, kom uiteindelik op dieselfde maniere terug na hulle toe. Goeie dade lei tot goeie karma of goeie gevolge en slegte dade tot die teenoorgestelde. Karma hou ook verband met die noodlot, waarin so baie mense, gelowiges inkluis glo. Die noodlot is geskoei op vaste oorsaak-gevolgskemas: “Die wiel sal draai.” “Whatever will be, will be.”


Gelukkig doen die Here nooit enige karma-roetes met ons nie. Hy giet nooit ons lewens in sulke noodlottige sement nie. Hy hou ons nie willoos gevange aan die hand van ons verkeerde dade van gister en eergister nie. Hy hanteer ons nie soos wat ons Hom hanteer nie. God deurbreek ons eie oorsaak-gevolggedrag deur juis vir ons te gee wat ons nie verdien nie, naamlik genade en splinternuwe lewe. Hy is immers skatryk in genade en ontferming, soos wat Paulus in Efesiërs 2 skryf. Die Here vergeld ons nooit volgens ons oortredings, wat ons in elk geval aan Sy voete neergesit het nie, soos wat Psalm 103 leer. Die Here is altyd geduldig en lankmoedig. Hy blaai graag ’n nuwe bladsy om. Die kruis van Christus vertel dit helder en duidelik. Glo in Hom, nie in die noodlot nie.

Kommentare


bottom of page