top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Geweeg en swaar genoeg bevind


“Geweeg, geweeg en te lig bevind.” So sê die skrif, wat in Daniël 5 teen die muur verskyn om koning Belsasar se regering saam te vat. Sy heerskappy was in die oë van die Here ’n liggewig aangeleentheid. Daarom was sy uiteinde op hande. Ons almal sou graag ook hierdie woorde oor baie politici hier in ons eie dag wou uitroep. Maar wat sou die uitslag wees indien onsself in God se weegskaal moet klim? Wat sal dan teen die muur oor onsself geskryf word?


Sal ons ooit die regte gewigsgrens in die Here se oë haal? Sal ons “gewigtig” genoeg wees? Sal ons aanvaarbaar in Sy oë wees? Ons kan van harte ja sê op al hierdie vrae as ons toelaat dat Jesus Sy gewig aan ons kant van die skaal bysit! Op eie stoom maak ons dit nie voor God nie. Glad nie! Maar wanneer ons op Jesus steun, asook op Sy offer in ons plek, verander die totale prentjie. Wanneer ons Sy uitgestrekte hand van genade vasgryp, word ons nooit  deur God te lig bevind nie. Hoor weer die goeie nuus van die Evangelie dat Jesus Sy eie gewig hier aan ons kant van die weegskaal kom ingooi het. Dit maak die wêreld se verskil in ons lewe. Dit maak die verskil van ’n ewigheid.

Comments


bottom of page