top of page

God haal nooit jou foto uit Sy beursie nie


Ek onthou my liewe skoonma se beursie was altyd vol foto’s van haar kleinkinders. Na haar dood het ons weer hierop afgekom. Dit het my herinner aan die woorde van ’n vriend, wat eenkeer gesê het sommige mense dra nie meer sy foto in hulle beursies rond nie. Hiermee het hy eintlik bedoel dat hy al ’n brug of twee in die lewe verbrand het. Hy het ’n paar vriende en familielede langs die lewenspad verloor as gevolg van onderlinge verskille, wat hulle nie kon uitsorteer nie.


Dit is nie vreemd dat mense partykeer ander mense uit hulle lewe verwyder nie. Konflik en verskille, wat hande uitruk, veroorsaak dat mense moed opgee op mekaar. By wyse van spreke haal hulle dan mekaar se foto’s uit hulle beursies. Maar hier is goeie nuus: God doen dit nooit met ons nie. Nooit los Hy Sy kinders se hand nie. Al maak ons Hom kwaad en al stel ons Hom hoeveel keer teleur, verloor Hy nie moed met ons nie. Hy bêre ons elkeen se foto vir ewig en altyd in Sy genade-album. Hy ken elkeen van ons as Sy kinders op ons naam, nou en vir altyd!

留言


bottom of page