top of page

God hou van mense én diere


Iewers lees ek die volgende woorde van die bekende Amerikaanse digter, Walt Whitman (1819-1892): “Love the earth and the sun and the animals.” Toe herinner dit my aan Deuteronomium 22:6-7. Hier word vir die Israeliete gesê dat hulle nie voëlneste mag plunder, terwyl ’n ma op haar eiers sit, of terwyl daar nog kleintjies in die nes is nie. Hulle mag wel die klein voëltjies vir hulleself neem, maar die ma moet eers toegelaat word om weg te vlieg. Vers 7 voeg by dat dit sal goed gaan met diegene wat hierdie voorskrif gehoorsaam. Hulle sal ’n lang lewe geniet. Is dit nie aangrypende woorde nie? Hierdie woorde sê God sien die fynste detail van die lewe raak. Hy sien ’n voëltjie raak, wat sorg vir haar kleintjies. Hy sien raak as Sy kinders reg teenoor hulle optree. Dan sal God hulle lewens ook met Sy goedheid omraam.


Whitman se woorde hierbo herinner my ook aan Jona 4 se laaste vers, waar God vir Jona sê dat Hy Nineve gaan spaar, omdat daar baie inwoners asook baie diere is wat in groot moeilikheid verkeer. God gee regtig om vir Sy skepping. Dit geld ook vir al die diere van die veld en vir die troeteldiere in ons eie huise. Nooit mag ons diere mishandel of seermaak nie. Dit grief God. Hulle behoort ook aan Hom.

Comments


bottom of page