top of page
Writer's pictureStephan Joubert

God is nie in die onderhandelingsbedryf nie


Op 2 Julie 1505 was Martin Luther na die Duitse stad Erfurt onderweg. Toe beland hy in ’n groot donderstorm. Hy het vir sy lewe gevrees. Daar en dan het Luther ’n gelofte gemaak dat as God sy lewe spaar, sal hy ’n monnik word. Sulke tipe onderhandelings met God is so oud soos die berge. “As U dit of dat vir my doen, sal ek die volgende terugdoen …” Kom ons wees eerlik: die meeste van ons het dit ook al gedoen. Toe ons in die moeilikheid was, was ons bereid om enigiets aan God te beloof in ruil vir Sy hulp.


Kan ons God regtig by sulke onderhandelings betrek? Nee, want ons het niks in ons hand waarmee ons met Hom kan onderhandel nie. Dit is die fout, wat die Fariseër in Jesus se gelykenis in Lukas 18:9-14 gemaak het. Hy het gedink hy kan God met sy voortreflike godsdienstige dade beïndruk. Maar hy was verkeerd, want God het niks in ruil van hom nodig gehad nie. God is nie in die onderhandelingsbedryf nie. Ons onderhandel onsself nooit in Sy hart in nie. Ons leef onsself nooit goed genoeg om vir Hom aanvaarbaar te wees nie. Die Here se goedheid is onvoorwaardelik. Hy het ons eerste en altyd lief. Sy gratis genade begin by sondaars, stukkendes, vyande en kie, wat niks hiervan verdien nie. Die Here help ons uit genade. Hy verhoor ons gebede uit die goedheid van Sy hart. Genadiglik het Luther dit ook ontdek en lewenslank hierdie onverdiende genade gepreek en voorgeleef.

Comentários


bottom of page