top of page

God se lewende offer


In sy nuutste Heilige Gees artikel skryf Stephan Joubert oor God wat Sy Gees vir ons gee as lewende offer.
God se lewende offer

Wat ‘n fenomenale beeld vir die Heilige Gees se werk gebruik Paulus nie hier in Romeine 8:23 nie. Dit laat my skoon na my asem snak! In die Ou-Testamentiese tyd het Israeliete die eerste opbrengste van hul oes aan die Here gewy. Paulus sê egter hier dat die rolle nou totaal en al omgeruil het: nou is dit nie meer ons wat offers aan God hoef te bring nie. Nee, Hy bring nou ’n offer aan ons en hierdie offer is niemand minder as Sy Gees nie. God gee so baie vir ons om dat Hy Sy Gees aan ons gegee het as die eerste vrugte van die hemelse oes, wat op die punt staan om ryp te word. Wanneer die ganse oes by die wederkoms ingebring word, sal ons met God se genade oorspoel word. Hy waarborg dit.


Wat ’n wonderlike voorreg om die God te mag ken, wat die grootste van alle geskenke met Hom saambring, wanneer Hy ons kom besoek, naamlik die Heilige Gees. Ek sukkel eerlikwaar om die grootsheid en omvang van hierdie unieke woorde in Romeine 8:23 oor die Gees onder woorde te bring. Om te dink dat God nou aan my en jou ‘n offer bring! En hierdie keer is dit ‘n lewende offer - Sy Gees! Hy het gekom om ons lewens van binne af nuut te maak. Hy is die eerste vrugte van die oes.


Gebed

My verstand kom tot stilstand as ek nadink oor die omvang van U liefde en genade, o God. Aan U alle eer! Amen.

Comments


bottom of page