top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Goedheid


Lees Galasiërs 5:22

 

Hoeveel keer gebruik ons nie uitdrukkings, soos “so en so is ‘n goeie mens” nie. Dis al ‘n standaard uitdrukking in die meeste van ons se woordeskat. Ons idee van goeie mense word gewoonlik gekleur en bepaal deur hul manier van gedrag teenoor onsself. As ander oulike dinge vir ons doen, is hulle goed. As hulle minder vriendelik is, of ons dalk nie goed genoeg behandel nie, is hulle nie goeie mense nie.

 

As Paulus skryf dat deel van die Heilige Gees se vrug in ons lewe ook goedheid insluit, dan gaan dit bepaald ook oor ons manier van leef. Maar, let wel, dan bepaal Hy die inhoud van goedheid, nie ander mense nie. Nou ja, goedheid in sy oë is wanneer ons doen wat reg en mooi in ons Hemelse Vader se oë is. Ons harte loop oor van goedheid, wanneer dieselfde medelye, wat daar in God se hart is teenoor stukkendes, armes, weerloses en almal wat nood ly, ook in ons harte gedy. Goedheid wen in ons lewe, wanneer ons ‘n stem word vir die stemloses. Wanneer die weduwee en die weeskind, die arme en die werklose, die daklose en die hongerige kan weet dat hulle op my kan reken om namens hulle te praat, dan wen goedheid. Dit gebeur ook wanneer my eie hande en beursie oopgaan om hulle te help en lief te hê.

 

Gebed:

Laat goedheid in hierdie groot wêreld wen, Heer. Amen.

Kommentare


bottom of page