top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Het Jesus dalk afgetree?


In sy nuwe Goeie Nuus nuusbrief vra Stephan Joubert of Jesus dalk afgetree het?
Het Jesus dalk afgetree?

Toe ek een keer in my kinderdae vir my oupa vra wat hy doen, het hy geantwoord: “Nie te veel nie, want ek is met pensioen.” Ek het nie verstaan wat dit beteken nie. Toe verduidelik my oupa vir my dat hy afgetree het. Dadelik vra ek toe vir hom of Jesus ook op pensioen is. Hy wou weet hoekom ek so iets vra. Ek het toe verduidelik dat dominee vir ons vertel het Jesus se werk was afgehandel, nadat Hy aan die kruis gesterf het. “Dit is hoekom Hy nou met pensioen in die hemel moet wees,” was my afleiding.


Party mense dink steeds dat Jesus klaar gewerk het. En dat Hy nie meer betrokke is hier op aarde nie. Toe nie! Matteus 28 se laaste aardse woorde uit Jesus se mond is juis dat Hy by ons sal wees al die dae tot aan die einde van die wêreld. Ook sê Jesus vroeër in Matteus 18 dat Hy altyd aanwesig sal wees, wanneer twee of drie in Sy naam vergader. Elders in die Nuwe Testament verneem ons ook hoedat Christus steeds by Sy aardse kerk is. Dit is Hyself, wat aan Paulus op die pad na Damaskus verskyn daar in Handelinge 9. Ook verskyn Hy aan Johannes op die eiland Patmos in Openbaring 1. Christus is vandag steeds by Sy mense. Ja, die Gees is ook by ons, maar Jesus het definitief nie afgetree nie. As Here is Hy steeds die wêreld vol. Hy is in die hemel aan God se regterhand en Hy is ook hier by ons. Jesus se werk is nog lank nie klaar nie. Goddank!

Comments


bottom of page