top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Hoe hanteer ons slegte nuus?


Elkeen van ons ontvang soms slegte nuus en die groot vraag is: Hoe hanteer ons dit?


Nehemia, ʼn Judese amptenaar in die Persiese koninklike hof, het slegte nuus ontvang: Dit het beroerd met sy mede-Israeliete gegaan, wat toe reeds uit ballingskap na Jerusalem teruggekeer het. Die tempel was wel herbou, maar die stadsmure en -poort was steeds nie herstel nie en dit het die stad weerloos teen vyandige aanvalle gelaat. Nehemia het hierdie slegte nuus op ʼn positiewe manier hanteer en later die vrugte gepluk. Ons kan die volgende by hom leer:


  1. GAAN LÊ MAAR. Nehemia het gaan sit en dae lank gehuil, getreur en gevas.

  2. BID. Dit is maklik om te gaan lê, maar moeiliker om weer op te staan en vorentoe te kyk. Nehemia het nie in ellende bly lê en huil nie, maar met lofprysing, smeking en skuldbelydenis gebid. Dit het hom die krag gegee om op te staan en weer aan te gaan.

  3. MAAK ʼn PLAN. Dit is duidelik dat God Nehemia wou gebruik om die Israeliete te help om die stadsmure te herbou. Hy kon sekerlik as verskoning aangevoer het dat hy maar net ʼn skinker is en nie ʼn leier of bouer nie en dat hy dus nie opgewasse is om die taak uit te voer nie. Maar hy het nie. Hy het ʼn plan van aksie uitgedink en verder gebid dat God die plan sal seën.

  4. STAAN OP EN BRING DIE PLAN IN BEWEGING, MAAR ONTHOU DAT GOD SE TYD NIE ONS TYD IS NIE. Nehemia wou sekerlik, uit die aard van sy menslike natuur, die plan dadelik uitvoer, maar dit is nie altyd hoe dit werk nie. God het Sy eie tyd en dit het drie maande geneem voordat Nehemia ʼn geleentheid sou kry om die plan in werking te stel.

  5. GEBRUIK DIE BRÛE WAT JY GEBOU HET. Ons moet ons hele lewe lank eerder brûe bou as afbrand – kan dalk later handig te pas kom. Nehemia was die skinker en moes eers aan die wyn proe om seker te maak dat dit veilig is vir die koning om te drink. Dit is duidelik dat hy uit die aard van sy werk ʼn vertrouensverhouding met die koning opgebou het. Die koning het genoeg vir hom omgegee om te vra wat fout is en Nehemia het die vrymoedigheid gehad om eerlik te antwoord en te vra dat die koning hom na Jerusalem sal stuur sodat hy kan help om die stad te herbou.

  6. WEES DAPPER! Ten spyte van die feit dat hy baie bang was, het hy nie geskroom om sy sê te sê toe die magtige koning hom vra wat fout is nie.

  7. PLUK DIE VRUGTE. As ons ʼn krisis of slegte nuus reg benader, sal ons keer op keer die vrugte pluk. Soos Nehemia skryf: “My God het Sy goeie hand oor my gehou en die koning het my versoek toegestaan.”

Comments


bottom of page